R88,8 miljoen in noodfinansiering sal aan plaaslike munisipaliteite in die Wes-Kaap beskikbaar gestel word om die uitwerking van beurtkrag op belangrike infrastruktuur te versag.
Hierdie tikkie goeie nuus is in ’n gesamentlike persverklaring bekendgemaak, wat Donderdag 30 Januarie deur Alan Winde, die premier van die Wes-Kaap; Mireille Wenger, die provinsiale minister van finansies en ekonomiese geleenthede en Anton Bredell, die provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning uitgereik is.
Noodfinansiering, wat nodig is om die gevolge van ongekende vlakke van beurtkrag op die Wes-Kaapse ekonomie, munisipale dienste en die omgewing te versag, is by die eerste provinsiale kabinetsvergadering van die jaar, wat Woensdag 25 Januarie gehou is, as ’n sleutel-prioriteit vir die jaar wat voorlê, bespreek.
Wenger het na afloop van hierdie vergadering die vrystelling van R88,81 miljoen aan die departement van plaaslike regering gemagtig, sodat kragopwekkers vir die verskaffing van waterdienste verkry kan word.
Artikel 25 (1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (Wet 6 van 2000) bepaal dat die provinsiale minister van finansies en ekonomiese geleenthede die Provinsiale Inkomstefonds kan gebruik om dringende nooduitgawes van ’n uitsonderlike aard, waarvoor tans nie voorsiening gemaak word nie, te dek.
“Hierdie stap dui op die dringendheid wat nodig is om die uitwerking van meedoënlose kragonderbrekings op noodsaaklike basiese dienste die hoof te bied. Ons kan nie toelaat dat ons burgers verder ly nie. Ons moet optree om munisipale dienste, soos watervoorsiening, afvalwaterbehandeling en rioolinfrastruktuur vir ons inwoners dringend te stabiliseer,” het Winde gesê.
“Ons regering werk baie hard aan ’n aantal medium tot langtermyn-strategieë om op hierdie krisis te reageer, maar ons erken ons verantwoordelikheid om nou in te gryp waar ons kan.”
“Hierdie noodvrystelling van geld vir kritieke infrastruktuur is net een so ’n voorbeeld,” het Winde verduidelik.
Beurtkrag en die daaropvolgende kragonderbrekings het ernstige gevolge, veral op die deurlopende behandeling en verskaffing van waterdienste.
Wenger het gesê: “Die intensiteit van die beurtkrag wat die land getref het, is ongekend. Die verwoestende impak op basiese dienslewering oor baie munisipaliteite in die provinsie, insluitend die fundamentele regte van burgers, met geen redelike vooruitsig dat dit binnekort sal eindig nie, kon nie voorsien word nie. Daarom moet ons dringend energievereistes stabiliseer en verseker dat munisipaliteite noodsaaklike en basiese water- en sanitasiedienste kan verskaf. Hierdie finansiering sal help om die werklike risiko van die mors van rou riool in waterlope en onderbrekings van drinkbare watertoevoer te versag, wat albei potensiële nadelige gesondheidsgevare vir inwoners inhou. Ons beleef ’n noodgeval, wat ’n dringende reaksie en noodfinansiering vereis om ons inwoners te beskerm,” het Wenger gesê.
Streng voorwaardes word aan hierdie uitgawe gekoppel:. Die gemagtigde bedrag moet binne 14 dae by die Wes-Kaapse provinsiale parlement en die ouditeur-generaal aangemeld word;. Uitgawes in hierdie verband moet óf in die volgende provinsiale aanpassingsbegroting vir die boekjaar waarin dit gemagtig word, ingesluit word óf in ander bewilligingswetgewing, wat in die provinsiale parlement ter tafel gelê is, binne 120 dae nadat die provinsiale minister van finansies die uitgawes goedgekeur het;. Die toekennings aan munisipaliteite moet in die Staatskoerant geplaas word ingevolge die vereistes van die Wet op die Verdeling van Inkomste, 2022.
Elektrisiteit word op munisipale vlak vir pompe vir die behandeling van rou water, die verspreiding van drinkbare water, die versameling en behandeling van afvalwater en waterafvoer gebruik. Hierdie pompe het elektrisiteit nodig om te werk en om te verseker dat water tot by die krane by huise, hospitale, skole en sakeondernemings gelewer word.
Munisipaliteite het gesê een van hul mees kritieke noodbehoeftes vir hulp is eenmalige finansiering om hierdie kragopwekkers aan te skaf.
“Hierdie R88,815 miljoen is ’n belegging in stabiliteit vir die provinsie. Die finansiering sal 24 plaaslike munisipaliteite en die vyf distriksmunisipaliteite in staat stel om aan te hou om basiese dienste soos drinkbare water en higiëniese en omgewingsveilige riool te verskaf, selfs wanneer Eskom nie die ligte kan aanhou nie,” het Bredell gesê.
“Ek erken wel dat plaaslike regerings in die provinsie hul bes gedoen het om beurtkrag te hanteer, wat weerspieël word in die R203,7 miljoen wat munisipaliteite reg oor die provinsie reeds hierdie boekjaar uit hul eie begrotings bestee het om rugsteunkragopwekkers, diesel en ander bykomstighede aan te skaf om beurtkrag te hanteer.
“Reservoirs, watersuiweringsaanlegte en afvalwateraanlegte het almal groot pompe nodig om te werk. Konstante beurtkrag maak dit vir hierdie geriewe onmoontlik om ten volle te funksioneer. Hoewel dieselaangedrewe rugsteunopwekkers duur is, sal dit ten minste voorsiening maak vir kontinuïteit namate ons meer langtermyn- en volhoubare oplossings vir ons huidige energiekrisis ontwikkel.”




