Die Bergrivier het nog ’n lewe geëis.
Dít is die derde verdrinking in Velddrif in minder as ’n maand.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, is die Laaiplek-polisie Donderdag (2 Februarie) om 13:50 in kennis gestel van ’n man wat by die bootklub in Port Owen verdrink het.
’n Omstander het die oorledene, wat vermoedelik in sy 30’s is, uit die water gehaal en hom op ’n aanlêsteier neergelê. Die drenkeling was ten volle geklee en het ’n rugsak onder sy klere gehad.
Enigiemand wat inligting met betrekking tot die voorval aan die polisie kan verskaf, word vriendelik versoek om sers. Emilio Benjamin van die Laaiplek-polisie by 022 783 8020 te bel.
Twee ander mense het net ’n paar weke gelede – Maandag 9 Januarie – glo weens sterk strome in die Bergrivier in Velddrif verdrink.




