Verskeie plattelandse rugbyklubs met hul skenkings. Foto: Yaël Malgas


Balle, mediese toerusting en splinternuwe truie was van die skenkings wat plattelandse Boland-rugbyklubs danksy die Super 8-Paastoernooi ontvang het.

Die bestuur het die erfenisprogram as deel van die Transnet Saldanha- Super 8-Paastoernooi gestig, wat daarna streef om rugby in die streek te bevorder. ’n Deel hiervan was die oorhandiging van toerusting en ’n basiese noodhulp-sessie wat klubs van Ebenhaëser tot Ceres Vrydag by die Saldanha-rugbystadion bygewoon het.

“Dit gee my groot bevrediging om die beloftes na te kom wat ons aan die plattelandse klubs gemaak het. Van die klubs sukkel werklik. Dit is die uitreik na dié klubs wat hierdie projek so besonders maak. Ek het eerstehands die dankbaarheid ervaar wat die voorsitters vir hierdie ongelooflike projek om klubs op te hef, het,” het Bertram Vraagom, die bestuurder van die Paas-toernooi, gesê.

Die klubs pronk met die hulp van die Sports Trust nou met medikits wat onder meer ’n draagbaar, verbande en al die bindlint bevat – alles wat hulle vir die rugbyseisoen nodig het.

Vir Mervyn Green van Sports Trust was Vrydag se geleentheid ’n hartsaak.

“Ek weet dit gaan moeilik by baie plattelandse klubs. Daar is dalk ’n gebrek aan hulpbronne, maar gewis nie gees nie. Ons maak seker die klubs het die nodige toerusting om te verseker spelers is in goeie hande indien iets op die veld skeefloop,” het hy verduidelik.

Die fisioterapeut Greshne van Wyk was byderhand om die noodhulpsessie te lei. Verteenwoordigers van die onderskeie klubs is in onder meer verbande toegedraai en van die veld af gedra as deel van Van Wyk se demonstrasies. Die Sports Trust het beloof om te verseker die klub kry amptelike noodhulp-opleiding.

Volgens Jerome Klaasen van die Attackers-rugbyklub is die skenking ’n groot bydrae vir die klub.

Tyrene Afrika van die Young Roslyns stem saam: “Plattelandse klubs kan nie altyd self hierdie soort toerusting bekostig nie. Die skenkings het ons groot­ste verwagtinge oortref. Die groter klubs is meer aanloklik vir borge, dus is dit wonderlik vir die span om in die rugbygemeenskap terug te ploeg,” het Afrika gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article