Die kêrel van Allison Plaatjies, die jong onderwyseres wie se liggaam in Oktober 2019 in haar tuinwoonstel in Clanwilliam aangetref is, is Dinsdag lewenslange tronkstraf weens haar moord opgelê.
Philip April (27) is ook vyf jaar tronkstraf opgelê vir die diefstal van Plaatjies se voertuig.
Die 26-jarige onderwyseres, wat in Clanwilliam skoolgehou het, se liggaam is op 27 Oktober 2019 met veelvuldige sny- en steekwonde gevind, het Netwerk24 vroeër berig.
Die staat het destyds aangevoer dat April vir Allison, met wie hy toe reeds meer as twee jaar uitgegaan het, vermoedelik met ’n mes doodgesteek en ook haar keel afgesny het.
April is vasgetrek nadat die Citrusdal-verkeerspolisie hom die Sondag ná die moord in Plaatjies se motor voorgekeer en op aanklagte van dronkbestuur en bestuur sonder ’n rybewys in hegtenis geneem het. Die moordaanklag is die volgende dag by die klagstaat gevoeg.
Waarnemende regter Nontuthuzelo Ralarala het Dinsdag in haar vonnisoplegging in die Kaapse hooggeregshof gesê April moet lewenslank uit die samelewing verwyder word. – Netwerk24





