Taxi-geweld in die Vredenburg-omgewing is weer besig om op te vlam.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, is ’n passasier met ’n mes in die been gesteek en ’n taxi-bestuurder erg aangerand toe hulle Maandagoggend (6 Februarie) met werkers van Vredenburg na Dwarskersbos vertrek het.
Helfrich sê ’n bakkie, ’n Fortuner en ’n minibus-taxi het die bakkie met die werkers van Vredenburg af agtervolg en geïntimideer totdat die bakkie uiteindelik om 07:35 by die Koppiesveld-afdraai teen die Vredenburg-Velddrifpad stilgehou het.
Die gewapende insittendes van die drie voertuie wat die bakkie agtervolg het, het die bestuurder te lyf gegaan en die passasier langs hom met ’n mes in die been gesteek. Volgens Helfrich is die bestuurder só erg aangerand dat sy hele gesig opgewel is.
Een van die aanvallers het glo ’n vuurwapen by hom gehad en die res pangas en messe.
Die motief vir die aanval is glo om werkgewers wat hul eie werkers rondry, met geweld te dwing om nie meer vervoer aan hulle te bied nie sodat taxi’s hulle moet vervoer.
Helfrich sê benewens Maandagoggend se aanval is die drie voertuie waarin die aanvallers gery het, ook elders gesien waar hulle ander mense in voertuie probeer intimideer het om stil te hou, maar nie daarin geslaag nie aangesien die bestuurders almal waarskynlik voet in die hoek gesit het toe hulle die gevaar gesien het.
Die taxigeweld broei egter al sedert verlede week toe ’n man (51) Woensdag (1 Februarie) sy werkers in Hopland, Vredenburg, gaan oplaai het. Onderweg terug na sy plaas het twee voertuie – ’n minibus-taxi en ’n wit Isuzu-bakkie – hom gedwing om stil te hou. Sewe mans het hom aangerand en gedreig. Twee dae ná hierdie voorval wou die man weer sy werkers gaan oplaai toe hy die wit Isuzu-bakkie sien. Hy het toe eerder omgedraai.
’n Vergadering met plaaslike taxi-eienaars het Maandag (6 Februarie) by die Vredenburg-polisiekantoor plaasgevind in ’n poging om ’n einde aan die geweld te bring. Dit is nog nie bekend of uitsluitsel oor die uitkoms van die besprekinge bereik is nie.



