Rassisme.
Sal ek nou durf hieroor skryf?
Ek is so moeg om oor veilige onderwerpe te skryf, wat niks betekenisvol tot die samelewing bydra nie. Op sosiale media is dit gewoonlik die leë blikke wat die meeste geraas maak, diegene wat haat spoeg en geen liefde vir hul medemens het nie.
En meeste van die ordentlike mense met goeie waardes is tjoepstil, want ons wil tog nie onnodig drama veroorsaak nie.
Solank jy en jou gesin veilig voel en gemaklik leef, agter ’n hemelhoë geëlektrifiseerde muur en heining, én jou kragopwekker werk én jy kos op jou tafel het, het jy nie ’n saak met ander nie.
Hierdie elkeen-vir-homself-mentaliteit gaan nie ons land red nie.
Daar is baie wysheid daarin om nie met ’n dwaas op sosiale media te baklei nie, om nie jou pêrels voor die varke te werp nie en nie wat heilig is vir die honde te gee nie, maar . . . dit is tyd dat ons weer opstaan vir wat reg is.
Die enigste ding wat nodig is vir die bose om in hierdie wêreld te seëvier, is dat goeie mense niks doen nie.
Goeie mense sien so baie ongeregtigheid om hulle en voel hulle mag niks sê nie, want hulle vermy eerder konflik as om by hul waardes te hou. Ek is ook skuldig.
Maar basta daarmee.
Ek kom daagliks wit mense teë wat baie hard probeer om my te oortuig dat hulle nie rassiste is nie, maar hulle is opperste rassiste. Ek ontmoet ook gereeld bruin en swart mense, wat selfs verskoning vra dat hulle die kleurkwessie aanraak, want volgens hulle is hulle ook nie rassiste nie. Hulle sien nie hul eie blinde kolle raak nie, maar in daardie oomblik sien ek hulle.
Wat is die gemene deler tussen al die mense? Pyn; ’n gekweste hart.
Ons sal nooit leer om ander mense reg lief te hê as ons aanhou om wrokke, pyn en onvergewensgesindheid in ons harte te koester nie. Die gif is in jou eie hart, en ander mense wat jou te na kom, het ook gif in hul hart.
Ons het almal al iewers seergekry en elkeen van ons is daaraan skuldig dat ons ook al iemand seergemaak het – nie een keer nie; sommer baie keer.
Ons sal nooit gesond raak as ons aanhou minderwaardig voel nie. Jy is nie minder belangrik as die ryk of suksesvolle mens met wie jy jouself vergelyk nie, maar jy is ook nie belangriker as die mens wat ’n ander velpigmentasie as jy het nie.
Jy hoef nie minderwaardig te voel nie. Jy is onmeetbaar waardevol. Jy is in die beeld van God geskep.
Daar is net een kuur vir die gif in ons almal se hart . . .
En dit bring my by die volgende omstrede onderwerp:
Sal ek nou durf om hieroor ook te skryf?
Dit is – Jesus Christus.
Net die melding van Sy naam laat die demone uit die mond van mense haat spoeg.
Maar weet vir seker dis omdat die waarheid ’n bedreiging is. Rassisme is in werklikheid nie ons groot probleem nie – rassisme is slegs ’n tuig, ’n stuk gereedskap, waarmee haat gesaai en waardeur mense verdeel word.
Rassisme is maar net een van die hulpmiddels in die vyand se gereedskapskas. Daar is baie ander.
Jou swart, wit of bruin medemens is nie jou vyand nie.
Nou, ’n derde omstrede onderwerp:
Jou vriend wat teen of vir die covid-entstof besluit het, is nog minder jou vyand.
Wie is jou vyand dan?
Die onsigbare een wat alle mense haat, maak nie saak watter kleur hulle is nie.
En wanneer jy dit begryp, is dit makliker om ander mense lief te hê.
Oukei, so iemand het jou seergemaak, ek verstaan. Maar is jy self so onskuldig?
Is jy self heilig en volmaak?
Laat die een sonder skuld die eerste klip gooi.
Daar is geen ander verduideliking of oplossing vir ons morele dilemma as die Evangelie nie.
God verwag van jou om ander te vergewe, want Hy sal jou vergewe.
En dis die enigste manier hoe ons werklik gebroke verhoudings in hierdie land sal regstel – die enigste manier hoe ons ware versoening gaan sien.





