Die provinsiale minister van kulturele sake en sport, Anroux Marais, het vandeesweek ’n beroep op inwoners van die Wes-Kaap gedoen om terreine te benoem wat hulle voel as amptelike erfenisterreine erken moet word (berig op bl. 6). Dit sluit terreine in met besondere betekenis vir hul kultuur, herinneringe en geleefde ervarings. Hierdie terreine moet, onder meer, estetiese, argitektoniese, historiese, wetenskaplike, sosiale, geestelike, linguistiese of tegnologiese erfenisbetekenis hê. Een van die groot trekpleisters van die Weskus is die ryke erfenis.
Die Weskus het talle vleilande, waaronder die Bergriviermonding, wat onlangs tot amptelike Ramsar-bewaringsgebied verklaar is.
So ook het die gewilde Bokkomlaan in Velddrif in 2020 erfenisstatus behaal.
Net so is daar soveel ander juwele met historiese waarde aan die Weskus, soos die wit vissershuisies met die kenmerkende abba-skoorsteen wat eie is aan die Weskus, die Weskus-fossielpark met argeologiese erfeniswaarde asook restaurante wat al eeue lank hul tuiste in die Weskus het.
Watter plaaslike geboue of terreine sou jy as ’n amptelike Weskus-erfenis wou verklaar? Nou is jou kans om daardie erfenis vir ewig in die geskiedenisboeke vas te lê.



