Roy en Dorette Steele


Meer as net ’n ongeluk?

Sowat sewe jaar nadat Dorette Steele, ’n bekende sakevrou van Langebaan, onder geheimsinnige omstandighede op hul plaas gesterf het, kan haar man, Roy Steele, nou moontlik vir haar dood vervolg word.

Weslander het destyds berig die Steele-egpaar het die aand van 23 September 2015 by vriende in Langebaan gekuier en skuins voor middernag weer na hul plaas, geleë tussen Velddrif en Hopefield, vertrek.

Roy het sewe jaar gelede tydens sy Weslander-onderhoud oor sy vrou se dood ’n paar dae vantevore bitterlik gehuil.

Hy het aan Weslander vertel dat hy 10 km voor hul bestemming daardie aand vir iets in die pad uitgeswaai het. Die voertuig het die pad verlaat, in ’n sloot beland, deur die biesies gebars en in ’n droë rivierbedding tot stilstand gekom. Die lugsakke het volgens Roy glo dadelik opgeblaas.

Dorette het glo gekla van rugpyn, maar volgens Roy het hy nie vir ’n oomblik gedink haar lewe is in gevaar nie.

Roy het vertel dat hy haar by ’n hospitaal wou kry, maar dat Dorette gesê het sy voel “oukei”. Sy wou huis toe gaan. Dorette het later by die huis gesterf en Roy het aan Weslander gesê sy het haar laaste asem uitgeblaas minute voor hul huisdokter op die plaas aangekom het.

Roy het tydens hierdie onderhoud aan Weslander gesê hy glo haar aorta het vermoedelik met die impak geskeur en sy het inwendig gebloei.

Dr. Johan Bester, Dorette se broer wat in Sydney, Australië, woon het aan Weslander gesê dat hy nooit gerus gestel is oor die manier waarop sy suster glo gesterf het nie.

Hy het ontdek dat die saak glo nooit verder ondersoek is nie en dat daar pogings van buite was om die saak afgesluit te kry. Daarna het hy die privaatspeurder Mike Barkhuizen aangestel om nadere ondersoek in te stel.

Vanweë Barkhuizen se ondersoek en ’n private forensiese patoloog wat weer na die lykskouingsverslag gekyk het, kon ’n verslag na die nasionale vervolgingsgesag gestuur word vir ’n besluit om te vervolg, al dan nie.

Die geregtelike doodsondersoek wat in 2015 geopen is, is jare daarna na ’n ondersoek van strafbare manslag verander. Volgens kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is ’n kennisgewing om in die hof te verskyn reeds op 26 Oktober 2022 aan Roy beteken.

Hy het op 31 Januarie in die Hopefield-landdroshof verskyn nadat hy die eerste keer op 10 Januarie in die hof verskyn het.

Volgens die korrespondensie wat Barkhuizen aan Bester oor hofverrigtinge op 31 Januarie gestuur het, is die saak uitgestel.

Roy is gewaarsku om weer op 4 April by die hof te wees.

Barkhuizen sê in sy skrywe hy het rede om te glo Roy se prokureur beplan om beswaar teen sy vervolging aan te teken deur regsvertoë by die direkteur van openbare vervolging in te dien.

“Ek is van mening dat dit, weens die aard en agtergrond van die saak, nutteloos is en dis onwaarskynlik dat dit (die regsvertoë) sal slaag,” het Barkhuizen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article