Die 2023-Wêreldbeker-netbaltoernooi word in Suid-Afrika aangebied en die netbal-aksie by vanjaar se Transnet Saldanha- Super 8-Paastoernooi sal gewis ’n voorsmakie van dié geleentheid bied.
Netbal sal die eerste keer deel van die gewilde Paastoernooi wees.
“Die Transnet/Saldanha-rugbytoernooi het hom gevestig as die grootste amateur-toernooi op die sportkalender. Ons het ankerborge soos Transnet, Hollywoodbets en Supersport, en nou het 3 Cube Management – een van die voorste aktiveringsmaatskappye in die land – ook aan boord gekom. Dit gaan net verder meer stukrag aan ’n reeds gevestigde toernooi verleen.
“Vanjaar is die Wêreldbeker-netbaltoernooi, en wat ’n absoluut fantastiese geleentheid om die atmosfeer vir ’n goue geleentheid te skep. Die toernooi gaan ook nou meer voete na die stadion lok en sodoende gaan netbal sy regmatige staanplek in sport kry,” het Bertram Vraagom, ’n direkteur van die Super 8, aangekondig. Die laaste weergawe van die toernooi het 15 000 toeskouers in die Transnet/Saldanha-stadion verwelkom. Vraagom sê hy is in ekstase om die nuwe sportsoort as deel van die toernooi te verwelkom.
Ses distrikte sal aan die toernooi deelneem. Spelers van Kaapstad, Eden, die Weskus, Sentraal-Karoo, Wynlande en Overberg sal meeding.
Bennie Saayman, president van die Wes-Kaapse Netbalfederasie, meen 2023 is ’n goeie jaar vir netbal. “Vanjaar maak ons as die Wes-Kaapse Netbal-federasie opgewonde met al die netbal op die spyskaart. Ons vennootskap met 3 Cube Management bring ’n nuwe kompetisie wat die ou Wes-Kaapse kampioenskap vervang. Die 16 netbalspanne uit al ses Wes-Kaapse netbal-distrikte sal by die Paasnaweek-toernooi in aksie wees,” sê hy.
Saayman sê die toernooi behoort vonkelwyn-netbal op te lewer.
Prof. Wilbur Kraak van WJK Consulting sê hy is opgewonde om deel van die Paasfees-netbaltoernooi te wees. “Die toernooi gaan vir alle rolspelers van groot waarde wees en gaan ook bydra tot die groei en ontwikkeling van netbal in ’n Wêreldbeker-jaar,” meen Kraak.



