’n Groep boukontrakteurs staan nou saam om mekaar te help as daar weer taxigeweld is.
Plaaslike boukontrakteurs het Maandag 20 Februarie in Paternoster vergader oor die impak van die onlangse taxigeweld en -intimidasie op die boubedryf en sy werksmag.
Een van hierdie ontevrede boukontrakteurs, Hein van der Merwe, het Dinsdag aan Weslander gesê die groep het op die vergadering besluit om ’n memorandum op te stel wat binnekort oorhanding sal word. Hierin word versoek dat die polisie daadwerklik aksie neem teen taxibestuurders wat hulle aan intimidasie skuldig maak.
Van der Merwe het gesê ’n advokaat is genader om te help met die opstel van die memorandum en daar moet nog op ’n datum besluit word om die dokument amptelik aan die polisie voor te lê.
Verlede week het ’n boukontrakteur met Weslander gedeel dat hy in vrees leef nadat hy in Langebaan deur taxibestuurders geïntimideer is terwyl hy sy werkers vervoer het.
Die boukontrakteur betaal sedertdien daagliks vir sy personeel sodat hulle van taxi’s gebruik kan maak om werk toe en terug vervoer te word, maar hy sê dis ’n ekstra koste waarvoor nie begroot is nie. Hy het aan Weslander gesê hy is te bang om die kans te waag om weer sy werkers self te vervoer.
Weslander het op Donderdag 9 Februarie oor taxigeweld berig, waaronder ’n voorval waarin ’n bestuurder wat werkers vervoer het langs die Vredenburg-Velddrifpad aangerand is. ’n Passasier is met ’n mes in die been gesteek. In nog ’n voorval is nog ’n man aangerand toe hy sy werkers van Witteklip in Vredenburg na ’n plaas wou vervoer.
Teen 10 Februarie is nog voorvalle van intimidasie by die Jacobsbaai-afdraai aangemeld ten spyte van ’n vergadering wat met verteenwoordigers van die taxibedryf op 8 Februarie deur die plaaslike polisie belê is.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) het verlede week ’n openbare kennisgewing uitgereik om die publiek in kennis te stel van ’n provinsiale tuisbly-aksie Woensdag 22 Februarie (gister).
Hierin het Santaco gevra dat geen taxi’s in die provinsies mense op hierdie dag vervoer nie en dat minibusse by taxi-haltes of by huise geparkeer word.
’n Versoek is ook deur Santaco aan die publiek gerig om nie by geweld, intimidasie of vandalisme betrokke te raak nie. Die betoging is beplan in ’n poging om aandag te werp op taxibestuurders se griewe, onder meer die “onregverdige skut van voertuie” en die feit dat talle bestaande taxi-operateurs nog nie wettig verklaar is nie.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die polisie talle oproepe van plaaslike maatskappye ontvang wat wou weet of dit veilig was om gister vragmotors en voertuie op die paaie uit te stuur. Dis egter teen Dinsdagmiddag bekend gemaak dat die tuisbly-aksie gekanselleer is.
Volgens Helfrich is geen nuwe voorvalle van intimidasie gister teen druktyd by die polisie aangemeld nie.
Van der Merwe nooi werkgewers in ander bedrywe wat slagoffers van taxi-intimidasie is om saam met die boukontrakteurs teen hierdie euwel te staan. Bel hom by 072 935 8604.




