’n Advokaat wat in Bellville praktiseer en op Vrydag 17 Februarie glo ontvoer is, is die volgende dag deur die polisie in die Klawer-omgewing opgespoor.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is die advokaat verlede Vrydag as vermis aangemeld nadat hy die betrokke Vrydagaand nie by die huis opgedaag het nie.

Die volgende oggend – Saterdag 18 Februarie – het ’n span speurders van Bellville die bewerings van ontvoering ondersoek en die besonderhede van die vermiste advokaat en sy voertuig aan omliggende polisiekantore in die provinsie deurgegee.

Die Klawer-polisie het die vermiste advokaat se voertuig in Riemvasmaak opgemerk en hom daar opgespoor.

Drie mense – ’n vrou, haar dogter en dié se vriend – is in hegtenis geneem.

Helfrich sê die verdagtes het blykbaar die slagoffer in Bellville by sy praktyk ontvoer en met hom Weskus toe gery.

Hy is glo met ’n vuurwapen aangehou en ook beveel om geld te trek.

Die drie verdagtes – Garth Weber (33), Amoryn Schroeder (40) en Charmaine Schroeder (24) – het reeds in die Bellville-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article