Die Gereformeerde kerk Vredenburg-Saldanha het onlangs ’n nuwe predikant in sy geledere verwelkom.

Die kerk het sy ontstaan in 1976 gehad. Benewens die dorpe Vredenburg en Saldanha sluit die gemeente se grense ook dorpe soos Aurora, Piketberg, Moorreesburg, Hopefield, Darling, Yzerfontein, Langebaan, Jacobsbaai, Paternoster, St. Helenabaai, Velddrif en Dwarskersbos in.

Die gemeente het tans 160 lidmate.

Ds. Karel Steyn was die eerste voltydse predikant van die gemeente nadat hy in 2017 hier in die amp bevestig is. Hy het egter in 2022 ’n beroep na die Gereformeerde kerk Port Elizabeth aanvaar.

Ds. Johan Willemse, oorspronklik van Bethlehem in die Vrystaat, het aan die einde van 2022 sy teologiese studies aan die Gereformeerde Kerke se Teologiese Skool by die Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom voltooi.

Daarmee het hy dan ook sy teologie- graad verwerf nadat hy in 2019 sy BA-graad in tale verwerf het, wat onder meer Grieks, Hebreeus en Latyn insluit. Ds. Willemse het die beroep na die Gereformeerde kerk Vredenburg-Saldanha aanvaar en is die afgelope naweek hier in die amp van predikant bevestig.

Die verrigtinge het Saterdagmiddag 25 Februarie begin met die bevestiging van ds. Willemse deur ds. Brahm Robinson van die Potchefstroom Cachet-gemeente. Hierdie was ’n baie besonderse geleentheid waartydens hy met handoplegging van vier predikante vir die eerste keer as predikant in die amp bevestig is.

Ná die erediens en bevestiging het al die Weskus “Doppers” baie lekker gesmul aan twee skape op die spit en bykosse.

Ds. Willemse het Sondagoggend 26 Februarie sy intreepreek uit Efesiërs 3:14-21 gelewer, met die tema: “Bid dat God ons vanuit sy volheid versterk”.

Ná die erediens is weer lekker gekuier. Hy sien baie daarna uit om hierdie gemeente verder te help uitbou en groei in die geloof, met een van sy hooffokusareas om die evangelie van Jesus Christus aan jongmense aan die Weskus te bring wat in vandag se lewe verskeie uitdagings moet trotseer.

Met ’n groot persentasie afgetredenes in die gemeente gaan hy hulle natuurlik ook nie afskeep nie.

Ds. Willemse word baie hartlik hier aan die Weskus verwelkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article