Adelaide Ruiters, die eerste vroulike fosfaatmyneienaar ter wêreld.


Die wêreld se eerste fosfaatmyn met ’n vroue-eienaar het verlede jaar die mynreg vir die beplande Zandheuwel-fosfaatmyn in Saldanha gekry.

Die uitgesette perseel vir die myn is 4,5 km noord van Blouwaterbaai in Saldanha en sowat 3 km suid van Louwville in Vredenburg geleë.

In ’n video-onderhoud het Adelaide Ruiters, uitvoerende hoof en stigter van Adelaide Ruiters Mining & Exploration (ARME), aan Engineering News & Mining Weekly gesê ARME fokus al die afgelope paar jaar op die eksplorasie van sedimentêre fosfate en kalksteen in die Saldanhabaai-gebied.

Ruiters hoop om bevoegdheid en kundigheid in die Suid-Afrikaanse fosfaatbedryf te laat herleef sodat voedselsekerheid beskerm kan word.

In die video-onderhoud het Ruiters gesê die mynreg vir die Zandheuwel-fosfaatmyn is reeds in September 2022 aan die maatskappy toegeken.

Volgens korrespondensie uit die openbare deelname-kantoor van AMRE aan geïnteresseerde en betrokke partye, is die finale omvangsbepalingsverslag vir die Zandheuwelmynprojek op 20 Februarie vanjaar by die departement van minerale hulpbronne en energie ingedien.

Die maatskappy wil by Zandheuwel 28,8% fosforpentoksied- organiese fosfaatkonsentraat produseer, wat geskik is vir beide chemiese en organiese landbou en wat ’n versterker vir swakker gehalte landbougrond is.

Teen Februarie vanjaar het die maatskappy aangekondig dat hy suksesvolle landbouproewe vir sojabone, koring en mielies uitgevoer het. Hierdie proewe vervang tradisionele chemikalieë, soos diesel, wat vir fosfaatveredeling gebruik word, met ’n canola-olie as neweproduk.

“Dit is bekend dat ons Suid-Afrikaanse sedimentêre fosfaatgesteentes een van die laagste kadmiumvlakke in die wêreld bevat en behoort plaaslik en streeksgewys deur ons landboubedryf erken te word,” het Ruiters gesê met verwysing na die vele gesondheidsrisiko’s, insluitend kanker, wat met hoë kadmiumvlakke in kunsmis geassosieer word.

Die meeste van Suid-Afrika se fosfaatrots word egter tans ingevoer, ’n situasie wat Ruiters hoop om te verander deur die voorsiening aan boere van ’n meer koste-effektiewe en meer omgewingsvriendelike alternatiewe direkte-toediening organiese kunsmis wat ook tot ’n gesonder nasie kan lei.

Gedurende die omvangsbepalingsgedeelte van die openbare deelnameproses het akademici, plaaslike organisasies soos die Saldanha Bay Clean Air Assosiation (SBCAA), die Cochoqua Khoi-stamraad en Vredenburg-boerevereniging, asook talle omliggende sakeondernemings en inwoners hul bekommernisse en vrae skriftelik aan AMRE ingedien. Die finale omvangsbepalingsverslag, asook alle ingediende vrae en ARME se antwoorde daarop kan op die Saldanha Bay Water Quality Forum Trust (SBWQFT) se webtuiste besigtig word.

Die SBCAA het in sy kommentaar met betrekking tot AMRE se mynprojek gesê fyn deeltjies in die lug moet tydens die konstruksie- en bedryfsfases van die myn deeglik evalueer word.

SBCAA stel voor omgewingsmonitering moet spesiale aandag kry en deur ’n onafhanklike diensverskaffer gemonitor word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article