’n Eenmalige geleentheid om ons skouspelagtige land, ons uitsonderlike wynmaakgemeenskap en ons wonderlike sauvignon blanc op ’n internasionale verhoog ten toon te stel is om die draai.
Hoewel dit ’n uitdagende tyd is vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, is die opwinding tasbaar om die grootste en mees gesogte sauvignon blanc-kompetisie ter wêreld vir die eerste keer ooit in ’n “Nuwewêreldse” land in Afrika, en spesifiek op Suid-Afrikaanse bodem, aan te bied.
“Hierdie is ’n droom wat waar geword het,” sê RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc Suid-Afrika.
50 kundiges van oor die wêreld heen
Die Concours Mondial du Sauvignon vind van Maandag 13 tot Vrydag 17 Maart by die Le Franschhoek Hotel en Spa in Franschhoek plaas. Beoordeling vind oor drie dae plaas en die uitslae word Maandag 20 Maart 2023 in Düsseldorf, Duitsland, bekend gemaak by Prowein, die enigste internasionale handelskou wat die volledige wêreldmark dek.
Meer as 1 000 sauvignon blanc-wyne sal meeding om die aandag van 50 beoordelaars, van wie 40 internasionale en 10 plaaslike wynkenners is. Uitgesoek van oor die wêreld heen, sluit die paneel van kundige proeërs in Andrea Amadei, joernalis by Decanter in Italië, Jean Smullen, joernalis en wyngeleentheidsbestuurder in Ierland en die wynskrywer Paula Sidore van Duitsland. Die res van die internasionale kontingent kom van Brasilië, Kroasië, Denemarke, Italië, Mexiko, Nederland, Noorweë, Pole, Spanje, Swede, Oostenryk, België, Duitsland, Frankryk, Groot-Brittanje, en die Verenigde State.
Bekende Suid-Afrikaanse beoordelaars wat by die paneel aansluit, is die Kaapse wynmeesters dr. Winnie Bowman en René Groenewald, asook Heidi Duminy, Francois Rautenbach, dr. Carien Coetzee, Cathy Marston, Christian Eedes, Fiona McDonald, Joseph Dhafana en Malu Lambert. Gedurende die kompetisie word Suid-Afrika se opwindende Sauvignon Blanc-streke ook ten toon gestel deur daaglikse uitstappies na Durbanville, Constantia Wynvallei en Stellenbosch, en met spesiale aandetes wat deur Diemersdal, Groot Constantia en Vergelegen aangebied word.
Om hierdie kompetisie na eie bodem te bring was geen geringe prestasie nie.
“Kollektiewe ondersteuning van die bedryf was instrumenteel om hierdie geleentheid ’n werklikheid te maak,” sê Botha.
“Hierdie is ’n wonderlike platform vir al ons vennote om deel te wees van ’n positiewe Suid-Afrikaanse handelsmerk-storie. Dankie vir elkeen se samewerking om die beste wat Suid-Afrika het, ten toon te stel.”
Om die wêreld met sauvignon-safari
Hoewel die Concours Mondial slegs ’n handelskompetisie is, is die goeie nuus vir sauvignon-liefhebbers dat ’n Sauvignon-safari in die Kaapse Wynlande aangebied sal word as deel van die Internasionale Sauvignon Blanc-dag-vierings in Mei.
Die Sauvignon-safari is ’n interaktiewe om-die-wêreld sauvignon blanc-ervaring, insluitend ’n proe van Concours-mededingende wyne, sowel as trofeë- en medaljewenners, soos aangekondig in samewerking met Wines of South Africa (WoSA) by Prowein op Maandag 20 Maart in Düsseldorf, Duitsland, asook aanlyn by www.cmsauvignon.com.





