Nádi Truter is dalk ’n nuwe gesig by die Saldanhabaai-hotel, maar sy is reeds ’n bekende in die plaaslike gasvryheidsbedryf.
Dié Saldanhabaaier is sedert Maandag 2 Januarie aan die stuur van die Saldanhabaai-hotel. Ná vyf jaar by die Hoedjiesbaai-hotel, net ’n entjie laer in die pad van haar huidige werksplek, het Truter besluit om die skuif te maak.
“Dit is ’n regte full circle-oomblik vir my. Ek het destyds my praktiese opleiding hier voltooi en vandag is ek die bestuurder. Ek is ook die eerste Weskusser wat in 25 jaar as hoofbestuurder by die hotel aangestel is,” verduidelik sy.
Truter sê haar loopbaan in die gasvryheidsbedryf was eintlik per abuis. Dit was by ’n loopbaan-ekspo tydens haar matriekjaar wat die saadjie van die bedryf posgevat het. “Die verskeidenheid opsies in die bedryf was baie opwindend. Daar is so baie verskillende rigtings waarin jy kan gaan, en dit is deels hoekom ek besluit het om ’n bestuurder te word – ek doen ’n bietjie van alles. Saam met die departementshoofde van die hotel werk ek in elke deel van die hotel.”
Truter sê terwyl sy nog haar voete vind en die bestaande stelsel van die hotel bekyk, het sy groot planne vir die hotel.
“Dit sal wonderlik wees as Weskussers die hotel meer benut en ondersteun. Daar is die idee dat die hotel deur inkommers en ’n groot maatskappy bestuur word, maar dit is uniek en eg Weskus,” meen sy.
Daarom is alles – van die spyskaart tot die kostes van verblyf – aangepas om meer in pas te wees met ander plaaslike ondernemings nadat die hotel twee jaar gelede van Protea Hotels/Marriott weggebreek het verduidelik Truter. Sy sê geleenthede soos die seekos-fees en pieknieks op die grasperk sal voortgaan terwyl die span dit oorweeg om vanjaar ’n geleentheid spesifiek vir bruide aan te bied. “Dit was wonderlik om by so ’n gehegte span aan te sluit. Die Saldanhabaai-hotel het ’n ander gees – meer korporatief, meer gesinne, maar wat ek oor die jare geleer het, is gewis van waarde. Dit is nie moeilik om die Saldanhabaai-hotel met al sy fasiliteite en trekpleister soos die uitsig te ‘verkoop’ nie.”
Met meer as 15 jaar in die gasvryheidsbedryf is Truter se raad aan enigeen wat in die bedryf wil werk om gereed te maak vir ’n unieke ervaring.
“Dit is nie ’n 09:00 tot 17:00 werk nie, en geen twee dae is dieselfde nie. Passie is meer as enigiets anders wat mense dryf. Iemand wat suksesvol in die bedryf is, het ’n persoonlikheid wat by die werk pas – dis soos match making,” meen sy.
’n Deel van die bedryf se uniekheid is terwyl die meeste mense vakansietyd geniet, is Truter en haar kollegas op hul besigste. Daarom geniet sy dit om saam met haar man, Eddie, op avonture te gaan en nuwe plekke te besoek. Hy is ook in die gasvryheidsbedryf en aan die stuur van die Saldanha-seiljagklub.
“Ons kook al die Gordon Ramsay-resepte wat ons kan. Ons het ook die vryheid om op te pak en te reis wanneer ons wil, maar enige tyd wat ons saam deurbring, is vir my wonderlik – al sit ons op die stoep,” sê sy. Die paartjie, wat ook die gewilde Weskus Mystery Room begin het, vier vandeesmaand hul tiende huweliksherdenking.
Sy nooi Weskussers sowel as besoekers om gerus ’n draai by die Saldanhabaai-hotel te kom maak en iets nuuts by die hotel te ontdek.





