Was jy al ooit in ’n geselskap waar jy agterna gewens het dat jy maar liefs die ander pad geloop het? Ek praat van daai geselskappe waar alle ander mense behalwe jyself die middelpunt van bespreking is; daai lostong-geselskappe of, platweg gestel, die skinder-mafia.
Dis eintlik nogal effens snaaks as ek nou so daaraan dink, want dis ongelooflik hoe in detail van iemand of ’n paar mense geklets kan word. Die meerderheid van die sodanige inligting is op hoorsê gegrond. Voordat dit nou klink asof ek van my troontjie af na die onderwerp kyk, wil ek jou darem net gerusstel, want ek was al in my leeftyd in ’n paar sulke scenario’s. Ook maar goed so, want dit het my uitkyk op die lewe drasties beïnvloed – in só ’n mate dat ek kies om nie deel van sulke geselskappe te wees nie.
Maak dit van jou iemand wat hom beter as ander wil hou of met sy kop in die lug leef en nie tred hou met die werklikheid om ons nie? Nee, glad nie. Dis ’n geval van jou bronne reg kies vir die inligting wat jy benodig, en natuurlik seker te maak daardie inligting kan deur genoegsame feite gestaaf word, want die teendeel daarvan is en bly net ’n ou skinderstorie.
Wat my die meeste oor die spesifieke onderwerp pla, is dat ons manlike spesie hulle net so skuldig maak aan hierdie slegte ou gewoonte, en daarvoor gril ek my morsdood.
Nee, sies man, die hele skinderbesigheid pas nou maar eenmaal net nie by jou nie – veral nie die feit dat party van ons manne soms die grootste deel van hul dag aan hierdie aktiwiteit afstaan, maar terselfdertyd maar sku is om by die huis die pot aan die kook te hou.
Moenie ’n fout maak nie – ek is intens bewus daarvan dat ’n skinderstorie soms darem die saai kant van die lewe so ’n bietjie kan optower en partykeer tot ’n heerlike uitbundige lag hier en daar kan lei. Dis egter die kere dat daardie ou gewoonte toksies begin raak, dat jy met ’n probleem sit.
Gaan loer maar so ’n bietjie in ons gemeenskappe en die nagevolge van skinderstories. Families en gesinne is vir weke, maande en selfs jare vir mekaar kwaad – oor ’n skinderstorie. Om nie eens te praat van hoe hierdie prentjie in kerke daarna uitsien nie – die een plek waar ’n mens darem hoop jy gespaar sal wees van die vuurtonge van die wêreld. Dis soms juis die rede waarom mense uiteindelik wegbreek van die kerk en baie kere selfs hul geloof prysgee, want die nuutste skinderstorie het hulle menswees tot in die grond verwoes.
Op ’n ligter noot – ek het die gewoonte gehad om by ’n paar strategiese mense op strategiese punte uit te kom as ek enigsins die behoefte het om bietjie te hoor waar so en so laas gesien is en wat gebeur het sedert ons laas kontak gehad het. En daai inligting vat ek maar met ’n knippie sout, want van beter weet ek wel, en dis om eerstehands met iemand kontak te maak om daardie inligting te bekom. Ek moet darem eerlik sê dit is deesdae glad nie meer ’n behoefte by my om sulke inligting tweedehands te ontvang nie. Ek wag maar eerder my beurt af vir ’n lekker kuiertjie saam met iemand wat ek dalk vir jare nie met ’n oog gesien het nie.
Jy sien, dieselfde mense wat ons dikwels beskinder, doen maklik dieselfde van en oor ons, en so word dit ’n bose kringloop. Ag nee wat, ons land het oorgenoeg skindermateriaal op nasionale vlak dat jy nog jou broer en suster in die gemeenskap of familie moet sit en beskinder.
Of ’n mens die ou nare gewoonte by my mense sal kan stopsit, betwyfel ek sterk, want dis ’n gewoonte so oud soos die liewe Heer se genade. Wat my egter laat waag om my daaroor uit te spreek, het te doen met die nagevolge wat ek al aanskou het – veral in die werkplek.
Genugtig weet, dit word by party werkplekke letterlik die kultuur van daardie organisasie. Mense begin op hoorsê of skinder floreer en breek so die etos van die organisasie stukkie vir stukkie af. Daai skinderstories vergiftig verhoudinge onder kollegas, en voor jy jou kom kry, word al die goeie en mooi bedoelings vir watter eerbare saak ook al by die voordeur uitgesmyt en ploeter mense voort met skynbare opregtheid vir die saak en aard van hulle werk.
Kan jy jou indink wat dit aan die produktiwiteit van ’n span kan doen?
Dis gewis nie die moeite werd nie, as jy my vra.
Die alternatief, wil ek my verstout om te sê, is eenvoudig – waak oor daai mond van jou; hou op om jou met ander mense se sake te bemoei; doen eerder ’n bietjie introspeksie en jy sal agterkom dat ek en jy oorgenoeg van ons eie sake het wat ons dringende aandag vereis.
Nee man, laat staan jou fietna-geite!!


