Berodine Boyce se lyk is in 2018 by die Laingville-krieketveld ontdek.Foto: Yaël Malgas


Daar is lig in die tonnel vir die Berodine Boyce-moordsaak wat al vir jare sloer.

Volgens Thyrone Williams, ’n raadslid by die Saldanhabaai-munisipaliteit en woordvoerder namens die vermoorde tiener van St. Helenabaai se familie, sal Boyce se saak na verwagting in April in die Kaapse hooggeregshof voorkom.

Boyce (16), van Laingville in St. Helenabaai, is in Julie 2018 vermoor. Haar verminkte lyk is dae ná haar verdwyning in ’n vlak graf langs die Laingville-krieketveld ontdek.

Weslander het in 2018 berig dat Boyce se modderbedekte lyk só geswel was dat sy amper onherkenbaar was (“Spesiale eenhede ingeroep om moord te ondersoek”, 19 Julie 2018).

Boyce se T-hemp was oor haar kop getrek en die res van haar klere onder haar in die graf gegooi. Sy is verkrag en aangerand en ’n hou teen die kop het blykbaar haar dood veroorsaak.

’n Deeglike en intensiewe ondersoek van byna ’n jaar lank het in Junie 2019 tot die inhegtenisneming van drie mans gelei. Die saak is toe na die hooggeregshof verwys en die drie beskuldigdes – Sheldon Christians, Elroy Galant en Duran Snyders – het in Februarie 2021 in ’n voorverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn.

Die hofsaak is in 2021 drie keer om verskeie redes uitgestel. Die saak is ook in 2022 ’n paar keer uitgestel.

Volgens Williams was sommige van die redes hiervoor die staatsaanklaer wat Covid gekry het en die beskikbaarheid van ’n geskikte landdros vir die saak.

“Daar is darem nou ’n landdros gekry. Dis iemand wat glo spesialiseer in hierdie tipe sake,” sê Williams.

“Die saak sal na verwagting in April in die hooggeregshof vir pleitooreenkomste en die verhoor voorkom. Ons behoort binnekort die datum te kry.

“Die mense van Laingville sal graag hierdie hoofstuk wil afsluit en geregtigheid vir Berodine sien geskied,” sê Williams.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article