’nBekende paartjie in die plaaslike motorfietsklubkringe het Saterdag tragies ná ’n motorfietssaamtrek in ’n botsing op die Hopefield-Velddrifpad gesterf.
Volgens Gerrie Pieterse, woordvoerder van die Weskus-motorfietsvereniging, het verskeie motorfietsklubs van die Weskus Saterdagoggend 18 Maart aan ’n saamtrek, wat deur die Road Thunders-motorfietsklub gereël is, ten bate van die diereliefdadigheidsorganisasie Saldanha Animal Care deelgeneem.
Die ryers het mekaar by die Hopefieldse padstal Plaasmol ontmoet waar die geldinsamelingsgeleentheid gehou is. Pieterse sê die ongeluk waarin die egpaar Chantel en Jaco Loubser van Vredenburg gesterf het, het eers ná die geleentheid – ’n dag van heerlike samesyn – plaasgevind.
Jaco en Chantel het laatmiddag by die Hopefield Plaasmol op hul motorfiets geklim en saam met ’n paar ander ryers besluit om na Velddrif via die Hopefield-Velddrifpad te ry.
Die ongeluk het na bewering tussen 16:00 en 16:40 gebeur nadat Jaco vermoedelik beheer oor die motorfiets naby die silo’s op dié pad verloor het. Daar was nie nog ’n voertuig of motorfiets in die ongeluk betrokke nie.
Dit was vir Pieterse hartseer en ’n groot skok om van die noodlottige ongeluk te hoor, aangesien Jaco volgens hom ’n verantwoordelike en hoogs ervare motorfietsryer was.
“Ek glo dit was bloot ’n ongeluk,” het hy verduidelik.
“Wanneer ons bikers so saam op ’n plek is, sê ek altyd vir almal hulle moet mekaar styf druk en behoorlik groet voor ons weer ry.
“Ons weet nie wat op die pad kan gebeur en of ons almal mekaar weer volgende keer gaan sien nie,” het hy gesê.
Pieterse sê Chantel en Jaco was voorheen lede van die Weskus Mohicans-motorfietsklub, maar het Saterdag glo saam met ’n ander plaaslike klub gery.
Gert Venter, president van die Road Thunders-motorfietsklub, sê Saterdag se geldinsameling en saamtrek het baie goed afgeloop, maar hy sê die tragiese ongeluk hang soos ’n skaduwee oor die sukses daarvan.
“Niemand het nog ooit seergekry op een van ons saamtrekke nie. Hierdie soort ongelukke gebeur altyd voor of ná die geleenthede self. Ons het nie beheer daaroor nie, maar dit bly hartseer,” het Venter gesê.
Venter het ook Jaco as ’n “professionele ryer” beskryf.
Medelye stroom sedert Saterdagmiddag vir die duidelik geliefde en bekende paartjie op sosialemedia-platforms in.
Jenny Knipe, Chantel se ma, het haar as ’n “sagte en liefdevolle” mens beskryf. Sy het ook aan Weslander gesê haar dogter en skoonseun was altyd bereid om ander te help.
Die egpaar laat hul 12-jarige seun, Lian, agter. Volgens Jenny is sy ouers se dood ’n “harde slag” vir hom, maar “hy is oukei”. Hy is op die oomblik by sy ander oupa en ouma, het Jenny gesê.
Jaco het by Duferco Steel en Chantel by die MTN-winkel by die Ipic-sentrum in Vredenburg gewerk. Maandag het kopers wat verby die geslote deure van MTN gestap het, gesien mense het blomme in die veiligheidshek van die winkel geplaas.
Jenny sê die familie is besig met begrafnisreëlings, maar teen druktyd was ’n datum vir die diens nog nie bekend nie.
In Augustus 2020 het Weslander berig oor plaaslike motorfietsryers Jannie van Zyl, Micheal Hoppzak, Melissa Lotter en ’n egpaar in ’n motor, Andrew en Janet Wood, wat in ’n gru-botsing tussen Langebaan en Saldanha gesterf het.
Hierdie botsing het ook plaasgevind nadat ’n geldinsamelingsaamtrek vir Saldanha Animal Care vroeër die dag gehou is.




