“Liefie, ek was nou in die Spar en die mandjie het my R500 gekos. Ek het net die basiese goedjies gekoop,” praat ’n vrou op haar foon terwyl ek by die Spar instap.

By die betaalpunte staan hulle, hul gesigte hang.

’n Wit Sasko-brood. Melk. Meel. Tandepasta. Basiese inkopies. R200.

Niemand lag en maak grappies nie. Dis ’n somber atmosfeer.

Voor my staan ’n vrou met ’n trollie vol luukshede. Oreo-koekies, twee van daardie heerlike bakke Tin Roof-roomys, twee Cokes en ’n Fanta, so ’n paar pakke lamtjoppies, ’n pak Simba-tjips steek heel-bo uit. Dis die nuwe ribbetjie-flavour. Die vrou se trollie staan soos ’n berg. Dis haar maand se inkopies. Sy staar die vrou wat voor haar staan met ’n brood en melk aan.

“Probeer weer. Die kaart het so ’n paar dae gelede nog gewerk.” Sy vee die bankkaart so ’n paar maal oor haar broek voor sy dit vir die man agter die kasregister teruggee.

Declined,” sê die man.

Sy sug. Vryf die kaart nog ’n keer oor haar broek.

Die vrou agter haar begin met haar vingers op die handvatsel van haar trollie tik.

Sy tik. Een. Twee. Drie.

Sy stop en kyk verder vir die vrou.

Die vrou, wat nou almal se aandag getrek het, gee haar bankkaart terug vir die man.

“Dit moet nou werk,” sê sy.

Ek is nie seker of sy dit vir haarself sê of vir die man agter die kasregister nie.

Die man trek die kaart deur die masjien.

So paar sekondes van stilte.

Die masjien kom ewe skielik tot lewe en begin ’n strokie uitdruk.

“Dis deur,” sê die man agter die kasregister. Hy glimlag so half vir die vrou.

Sy lag en vee haar voorkop af. “Ek het amper begin stres. Amper dink ek my kaart is foutief. Dankie.”

Sy vat haar sakkie en gluur die dame agter haar aan met haar oorvol trollie.

Die dame stoot haar trollie stadig nader en begin haar trollie uit te pak.

Sy pak nie af met ’n plan nie. Sy gryp wat die naaste aan haar is en begin uit te pak.

Simba-tjips, tjoppies en ’n Coke is eerste afgelaai.

Sy laai die res item vir item uit.

Sy laai vinnig uit, amper so asof sy honger is of iewers het om uit te kom.

Die nuwe iPhone wat se kamera so half by haar handsak uitsteek, se liggie begin te flits.

Sy ignoreer dit en pak verder uit.

“Toemaar, moenie so bekommerd lyk nie meneer, ek betaal kontant,” sê sy trots.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article