Toekomstige leiers van die Bergrivier het onlangs hul Belgiese eweknieë verwelkom om danksy hul onderskeie munisipaliteite meer van mekaar te leer.
Die Bergrivier-munisipaliteit en jongmense van die gebied het Vrydag 31 Maart ’n afvaardiging jonges van Heist-op-den-Berg uit België verwelkom. Die internasionale besoek is deel van ’n stedeband tussen die munisipaliteite en is reeds in 2015 begin.
Tydens die besoek leer die jongmense oor beste praktyke van munisipaliteite. Onder die fokusonderwerpe is vasteafval-bestuur, openbare deelname en natuurlik jeugontwikkeling.
Die Belgiese leerders het tydens die besoek kans gekry om eerstehands te leer hoe die plaaslike munisipaliteit bedryf word.
Hulle het ook die geleentheid gekry om aan plaaslike jeugontwikkelingsaktiwiteite deel te neem.
Volgens die jeugdiges is volhoubare ontwikkelingsdoelwitte en om van mekaar se lewensomstandighede te leer, twee van die uitruilprogram se belangrikste temas.
Hiermee saam was ’n besprekingspunt wat vir hulle uitgestaan het hoe jongmense betrokke kan raak by sake in die samelewing om so ’n verskil in hul toekoms te kan maak.
Volgens Hanlie Linde, munisipale bestuurder van die Bergrivier, het die groep besoekers Donderdag 6 April huiswaarts gekeer.
“Die uitruilprogram was ’n baie groot sukses en ons bedank almal wat moeite gedoen het om dit moontlik te maak – veral die gasouers wat hul huise en harte oopgestel het.”





