’n Sestigjarige man is die naweek met 53 kg se versteekte heroïne met ’n straatwaarde van sowat R3,7 miljoen op die N7 by die Klawer-weegbrug vasgetrek.
Verkeersbeamptes en polisielede het Sondag 16 April omstreeks 08:00 ’n grys Jaguar met ’n grys Volkswagen Jetta op ’n sleepwa in ’n padblokkade voorgekeer.
Die Jaquar en sleepwa het vreemde registrasienommers, “FB50WGGP” en “HS54VCGP” gehad, en die Jetta ’n Kaapse nommerplaat, “CA 230983”.
Die bestuurder van die Jaguar, Abdul Peter (60), is gevra om die bagasiebakke van die motors oop te maak, waarop die beamptes in die Jetta se bagasiebak op drie 1-kg-sakke met vermoedelik heroïne afgekom het. Met verdere ondersoek het die beamptes ’n versteekte kompartement by die agtersitplek van die Jetta gekry, waar 50 1-kg-sakke met vermoedelik heroïne versteek was.
Peter is in hegtenis geneem en die dwelms is by die Klawer-polisie ingehandig. Hy het Maandag 17 April op aanklag van handel in onwettige dwelms in die Klawer-landdroshof verskyn. Die saak is tot 27 April vir verdere ondersoek uitgestel en die beskuldigde bly in aanhouding.




