“Want om vry te wees, is nie net om die kettings af te gooi nie, maar om op ’n wyse te lewe wat die vryheid van ander respekteer en bevorder.” Dít was die wyse woorde van Nelson Mandela.

Vryheidsdag word reg oor Suid-Afrika heen op 27 April herdenk ter herinnering aan die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Die stryd voor 1994 was nie maklik nie weens talle struikelblokke en groot onregverdigheid.

Mandela het opgestaan en vir die fundamentele regte van alle mense geveg – ongeag geslag, nasionaliteit of ras. Mense het vandag nog gemengde gevoelens wanneer dit by Vryheidsdag en die betekenis daarvan kom.

Vir baie is dit moeilik om Vryheidsdag te vier, want hulle voel nie ekonomies vry nie. Hoewel mense die vryheid het om te stem en Apartheid verby is, sukkel talle Suid-Afrikaners vandag nog om in die hedendaagse ekonomie die kop bo water te hou.

“. . . maar om op ’n wyse te lewe wat die vryheid van ander respekteer en bevorder”, is dit ’n stelling wat rêrigwaar toegepas word?

Wanneer ons Vryheidsdag vier, moet ons nie vergeet van die stryd voor 1994 en die stryd wat baie steeds deurgaan nie.

Kom ons staan saam, help mekaar en streef vir werklike vryheid in ons land, waar meer as net ’n stem tel, sodat ons Vryheidsdag in sy volle glorie kan vier.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article