’n Noord-Kapenaar is Vrydagoggend (21 April) op die N7 naby die Klawer-weegbrug in sy voertuig voorgekeer nadat polisielede gesien het hy gooi ’n kartondoos by die venster uit, ’n ent voor ’n padblokkade.
Volgens Tania Helfrich, Weskus-polisiewoordvoerder, is die 38-jarige man omstreeks 09:30 voorgekeer. Die polisielede het die kartondoos gaan soek en twee rooi sakke met 2 745 inheemse Namakwaland-vetplantjies daarin gekry.
“Die spesifieke Conophytum is sedert 1 April vanjaar ’n bedreigde en beskermde flora-spesie wat baie meer werd is in sy natuurlike habitat as gepluk,” sê sy.
Die beskuldigde het Maandag in die Klawer-landdroshof verskyn en die saak is uitgestel vir nadere ondersoek. Hy bly in aanhouding.
Volgens die webwerf van die Suid-Afrikaanse nasionale biodiversiteitsinstituut bevat die genus Conophytum moontlik kalmerende eienskappe weens sy mesembrien-tipe alkaloïede.
“Die handel in wilde-plantmateriaal is onnadenkend, aangesien lede van die hele genus uit steggies of in saad beskikbaar is.”



