Oom Gerris Coetzee van De Plaat op Velddrif het Sondag 96 geraak.


Wanneer oom Gerris Coetzee (96) by sy huis uitstap hekkie toe, is daar geen kierie of gehoorapparaat nie. “Moenie vir die honde bang wees nie, hulle het al vanoggend geëet,” skerts hy oor hul skaaphonde wat blaf.

Oom Gerris van De Plaat op Velddrif het Sondag sy 96ste verjaardag saam met familie gevier. Die volgende oggend het hy ’n visnet begin boet (herstel).

“Ek wil nie meer verjaar nie – hier’s te veel dinge wat ek nog wil doen,” sê hy.

Hy vertel met ’n helder geheue oor sy grootwordjare in hierdie einste omgewing. Hy is die oudste van ’n broer en ’n tweeling. Die tweede broer is op 91 oorlede, die tweeling leef nog.

“My pa het buite die dorp geboer. Ons het grootgeraak met bokkoms en brood; ons was nooit ryk nie.”

Die gemengde boerdery het gesorg vir oorlewing: varke, melkkoeie, hoenders, skape en koring. “As kinders moes ons alles doen – koring bewerk en in velsakke bêre, snoek vlek, skaap of vark slag en afskraap, vet uitbraai, wors en kaiings maak, die vleis in ’n koelkamer hang, botter maak. Botter word in ’n groot wit emmer gebêre, met die deksel bo-op. Wanneer die botter galsterig raak, moes ons dit aanhou eet. Of honger ly!

“Ma het fyn rekening gehou van ons geldsake. Broeis hoenderhenne is noukeurig dopgehou – geen weglê-eier mag verlore gaan nie. Die eiers word met ’n pers pen gemerk en ma begin solank tel hoeveel kuikens daar behoort te kom. Wanneer die Jood met sy handelskar verbykom, raak hoenders en diervelle handelsgoed.”

Die Jood met die fuike onder sy kar; ruilhandel die aangewese manier van doen.

“Ma se boekhouding het goed gewerk. Vir Kersfees kon ons ’n groot sak suiker (25 pond) koop van die velle-geld. In huise waar die geld nie mooi bereken is nie, was daar soms nie eens meubels nie.

“Met laagwater, wanneer ’n mens die Bergrivier se varswater­fonteintjies kon sien, moes almal help drinkwater skep en aandra huis toe. Dit was ons enigste varswaterbron. Ma moes ver stap vir wasgoed was in vars water – omtrent 10 km na die kleigat anderkant die kruispad. Dan neem dit haar en buurvroue ’n hele dag lank. Later jare het waterlorries vir ons drinkwater aangery. Reservoirs en lopende water het eers gekom toe die visfabrieke hier begin.”

Hy onthou die groot vloed van 1942, toe “als weggespoel het. Selfs my oom se winkel, wat baie hoog bokant die rivier sit, was omring met water. Ek moes met ’n platboomskuit tot op sy winkelstoep roei en deur ’n venster klim om sy fles met geld te gaan haal. Die glasfles met sjielings, sikspense, tiekies en trippense.”

Dit was dae van rivierlangs skool toe stap; 5 km verder. Hierdie Weskusseun van die 1930’s was nie lief vir skool nie. Tog het hy matriek aan die Hoërskool Hopefield voltooi. “In 1950 het ek en my broer op die diepsee begin visvang.”

Dit het ’n inkomste verseker, maar daar was lelike ongelukke – ’n ernstige gesigbesering, oorlewing wanneer jonger manne sterf, die keer toe hy in die see beland en ’n tou sy voet vasvang. “Ek het amper verdrink.”

Ná een lelike ongeluk “toe trou ek sommer daardie Desember met Joey”.

Hy het vir hulle ’n huis gebou, presies hier waar hy saam met sy dogter Jo-Ann Willemse en haar gesin woon.

“Toe leer ek alles van messel-, teël- en loodgieterswerk.”

Hy was destyds diaken. “Ons het graag vir die kerk gegee. Al moes Joey koeke en terte bak in ’n houtstoof waarvan mens nie die hitte kan stel nie.”

Intussen vang hy gereeld harders, leervis, baar of kurper in die rivier, want ’n gebraaide vissie saans bly ’n voorreg.

Op 96 stap hy daagliks 30 minute met hul spelerige skaaphonde, lees graag boeke oor die omgewing en geologie, het pas weer sy eie safe gebou vir bokkoms droog, herstel steeds visvangnette. Sy spelerige kat en ’n plekkie waar hy met sy hande kan vroetel, hou hom gelukkig.

“Ons het grootgeraak met respek vir die natuur, is daardie fase nou verby?”

Op 96 mis hy die swerms witgatspreeus wat laatmiddag oor die rivier gevlieg het, uitbundige paddakore saans, die jaar toe daar so baie fonteinpaddas was dat oorversadigde tarentale sommer paddas by hul bekke laat uithang het, Sondagmiddag se kuiertjies met bure en vriende – “die beste manier om die ou week af te sluit”.

“My onthou is nog goed, ek help soms mense met navorsing oor die ou dae.” Hy wys na sy voorkop: “Ek moet altyd net eers die screen regkry om te kan onthou.

“O nee, ek drink nie pille nie, dis gif. Laas het die dokter my gehelp omdat my hartklop bietjie uit gear geraak het. Ek eet min soetgoed, ek gebruik knoffel, rooibostee en min koffie. En saans die gebraaide harder of bokkompie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article