Mirakel, uit die pen van Reza de Wet en onder regie van Marthinus Basson, is vanjaar genomineer.Foto: Hans van der Veen



Die Kanna-nominasies vir 2023 is onlangs bekend gemaak.

Mirre en aalwyn, Nicola Hanekom se jongste plekspesifieke drama, is na afloop van hierdie jaar se KKNK, wat tussen Saterdag 1 en Sondag 9 April op Oudtshoorn plaasgevind het, vir sewe Kanna-pryse genomineer.

Mirakel, uit die pen van Reza de Wet en onder regie van Marthinus Basson, Droomkraan Kronieke, die fisieke teaterstuk as deel van die KKNK se Karoo Kaarte-projek, en Ver in die wêreld Kittie, David Kramer se jongste musiekspel, is elk vir vyf Kannas genomineer.

Die fel omstrede kroon van Edward II & Gaveston, ook onder regie van Basson en met teks deur Tom Lanoye, het drie nominasies ontvang. Drie lede van die geselskap uit die klug Afval, ’n produk van die US dramadepartement se Première Teaterfees, is vir opkomende kunstenaar genomineer.

Woordmusiek met teks, regie en musiek deur Coenie de Villiers het twee nominasies ontvang.

Rafiek Mammon, sameroeper van die Kannapaneel, sê vanjaar se besprekings was moeilik en uiteenlopend, met werke van hoogstaande en uitnemende gehalte wat gesien is. “Dit is tog hoe dit hoort. Ons moet daardie besprekings hê, om die moeilike besluite te neem en betekenisvolle vooruitgang te laat geskied. Die omvang van werke by vanjaar se KKNK het ’n wye spektrum onderwerpe ingesluit.

“Op die diverse program was vars, nuutgeskrewe musiekteater, ’n musiekspel, plekspesifieke en tradisionele teater met vele asemrowende ontwerp, regie en spel wat op die planke in die Klein Karoo te sien was,” vertel Mammon.

Vanjaar se Kannapaneel was Mammon, Diane de Beer, Ilse Klink, Felicia Lesch en Fahiem Stellenboom. Slegs die 27 debuutproduksies by die fees is vanjaar vir Kannas in aanmerking geneem, met die uitsondering van die kategorie opkomende kunstenaar. Die Kannas word op Vrydag 5 Mei op ’n spesiale geleentheid by Leopard’s Leap in Franschhoek oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article