Die Weskus-polisie vra die gemeenskapslede wat ’n foto van ’n vrou se lewelose liggaam op sosiale media rondstuur om dit asseblief summier af te haal. Haar lyk is vanoggend op die strand by Tabakbaai, Saldanha, gekry.
“Dis ongelooflik onsensitief teenoor die oorledene se familie en vriende om só ’n foto rond te stuur,” het kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus, gesê. “Die vrou se naasbestaandes is nog nie eens in kennis gestel nie.”
Aangesien daar geen identifikasie by die vrou se liggaam gekry is nie, is die polisie nog besig om haar identiteit vas te stel.
Volgens Helfrich is die lyk vanoggend (Donderdag 18 Mei) omstreeks 09:30 op die strand gekry met net ’n swart broek aan. Sy is deur ’n mens gebyt en het veelvuldige beserings opgedoen.
Enige foto van die toneel wat op platforms soos WhatsApp rondgestuur word, meng ook met die polisie se ondersoek in. “Die post mortem sal bepaal wat haar dood veroorsaak het, maar tot dan word alle leidrade opgevolg en die saak deeglik ondersoek,” het Helfrich gesê.
Enigiemand met meer besonderhede word gevra om adjudant-offisier Heinrich Schmidlin, die ondersoekbeampte in die saak, by 079 894 0082 te bel.




