Sedert Dinsdag 9 Mei tot op hede is vyf mense op paaie in die Weskus- en Bergrivierstreke doodgery, die meeste net ná sonsopkoms.
Kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, waarsku motoriste en mense wat langs besige paaie stap om op die uitkyk vir mekaar te wees, veral vroegoggend en teen skemer wanneer die son dié tyd van die jaar in motoriste se oë skyn of digte mis op paaie voorkom.
Op Dinsdagoggend 9 Mei omstreeks 06:20 is ’n 15-jarige seun en ’n vriend op die Moraviapad in die Piketberg-gebied raakgery, waarna hy op die toneel beswyk het.
Die motorbestuurder het aangevoer dat hy nie die oorledene en sy vriend wat in die ongeluk beseer is, in die digte mis gesien het nie. ’n Saak van strafbare manslag is geopen en die bestuurder sal eersdaags in die Piketberg-landdroshof verskyn. Die oorledene se naam moet nog bevestig word.
Henrico Warnick (36) is ook op Dinsdag 9 Mei omstreeks 21:40 sowat 350 m van die Elandsfonteinmyn-ingang in die rigting van Vredenburg op die Hopefieldpad deur ’n voertuig raakgery. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Duidelike remmerke is op die pad sigbaar, en hoewel die voertuigbestuurder nie by die toneel stilgehou het nie, het hy die ongeluk aangemeld. Die bestuurder sal eersdaags in die Hopefield-landdroshof verskyn op aanklag van strafbare manslag.
Ook op Saterdagoggend 13 Mei omstreeks 06:50 het twee vriende voor ’n aankomende voertuig op die N7-Piketbergpad beland. Volgens Helfrich het die voertuigbestuurder gesê dat sy nie betyds vir hulle kon uitswaai sonder om in ’n aankomende vragmotor vas te ry nie. Kwanele Tshayeki, ’n 42-jarige man, het later die aand in die Vredenburg Provinsiale Hospitaal aan sy wonde beswyk. Die voertuigbestuurder staar nou ’n klag van strafbare manslag in die gesig en sal binnekort in die landdroshof op Piketberg verskyn.
Charmaine Lewies (53) van Laingville, St. Helenabaai, het Saterdagaand 13 Mei in die Vredenburg Provinsiale Hospitaal aan haar wonde beswyk nadat sy vroeër die aand, omstreeks 19:25, in Hoofstraat deur ’n voertuig getref is. Die besonderhede van die bestuurder is bekend aan St. Helenabaai-polisie en die persoon sal eersdaags in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van strafbare manslag.
’n Onbekende man is Sondagoggend omstreeks 00:05 op die N7 naby die Goedgevonden-plaas by Moorreesburg deur ’n voertuig raakgery.
Die voertuigbestuurder het volgens Helfrich probeer om sy voertuig betyds tot stilstand te kry toe hy die man skielik in die pad voor hom sien.
Die onbekende man is op die toneel dood as gevolg van sy beserings.
Die oorledene, wat steeds nie geïdentifiseer kon word nie, is wel per geleentheid in die dorp met ’n waentjie opgemerk.
Enigiemand met kennis oor die man se identiteit kan die Moorreesburg-polisie by 022 433 8660 skakel.



