Langebaan-atletiek is ook die span agter die Weskus Street Mile-wedloop wat eersdaags in hul tuisdorp begin. Saam met die span by die bekendstelling was Mike Fraser van Boland-atletiek (heel regs).Foto: Yaël Malgas


Die Weskus sal eersdaags ’n nuwe “eerste” hê wanneer atlete die strate invaar as deel van die Weskus Street Mile-wedloop.

Danksy die Langebaan-atletiekklub het die Weskus nou ’n vyf weke lange wedloop wat Saterdag 8 Julie met ’n finale wedloop sal eindig. Atlete van nege tot 70 jaar en ouer sal aan die wedloop deelneem, het Leroy Jacobs, die wedloop-direkteur, Vrydagaand by die amptelike bekendstelling van die Street Mile verduidelik.

Die Langebaan-atletiekklub se voorsitter, Christopher Rodger, het meer vertel oor die klub en hoekom dié nuwe sportgeleentheid begin is.

“Dit is nie genoeg om geleenthede vir ons kinders deur sport te skep nie. Ons moet ook mense bemagtig en bydra tot sosiale opheffing. Daar is nie iets soos ’n oornagsukses nie; jy moet die proses vertrou en die werk insit om ’n sukses te wees,” het hy verduidelik

Die Langebaan-atletiekklub is in 2012 gestig en het sedertdien verskeie topatlete opgelewer. Van die klub se uitblinkers is die junior Angell Pholman, die Suid-Afrikaanse kampioen van die 1 200m-wedloop, en die meestersatleet Eustace Lemmetjie, wat verskeie podiumplekke behaal het.

Rodgers sê egter alle atlete by die klub is ewe belangrik.

Mike Fraser van Boland-atletiek het die klub vir sy “baanbreker-werk” geprys.

“Wat ek hier sien en wat ek glo die sleutel tot julle sukses is, is die ekostelsel wat geskep is. Die sukses van die klub en die komende Street Milekan toegeskryf word aan samewerking met die gemeenskap en ander rolspelers buite die sport-sektor. Deur só saam te staan, skep ons ’n toekoms vir ons kinders,” het Fraser gesê.

Hy het bygevoeg hoewel die Langebaan-klub een van die jongstes in die streek is, is dit maklik om die impak van hul werk te sien.

“Hier word nie net gekla oor wat julle nie het nie – hier word gewerk met wat julle het, en dit is wonderlik om te sien hoeveel met min bemagtig is. Dit is net weer ’n bewys dat jou ingesteldheid en visie uiters belangrik is.”

Atlete sal Saterdag 27 Mei aan die eerste wedloop kan deelneem. Atlete hardloop in ouderdomsgroepe van Breëstraat en sal die roete deur die dorp volg om hul 1,6 km, oftewel 1 myl, te voltooi. Prysgeld ter waarde van R56 000 is op die spel. Die skool met die meeste inskrywings sal ’n trofee sowel as ’n geldprys wen.

Charmaine Loubser, die onderburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het die klub sterkte toegewens met dié nuwe geleentheid. “My hart loop eenvoudig net oor, want ons kan sien dit word gedoen vir die kinders en die gemeenskap,” het sy gesê.

Rodgers het die belanghebbendes, borge en sy “ysterspan” bedank vir hul aandeel aan die aanbieding van die Weskus Street Mile-wedloop.

Vir meer inligting oor die Street Mile, asook hoe en waar om in te skryf besoek www.langebaanathleticclub.co.za, hul Facebookblad of skakel Rodgers by 073 232 0046.* Weslander is die amptelike mediaborg van die Weskus Street Mile-wedloop.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article