Die Langebaaners en vissers-aktiviste Solene Smith en Norton Dowries. Dowries (67) is Saterdag aan ’n hartaanval dood.Foto: Masifundise Development Trust


’n Langebaan-seder het onlangs geval met die heengaan van Norton Dowries.

Dowries (67) was sy lewe lank ’n visserman, en toe hy nie meer self see toe gaan nie, het hy hom vir die regte van vissers beywer. Hy was ’n stigterslid van Coastal Links SA, ’n organisasie wat met en namens kleinskaalse vissers werk.

“Hy was Saterdag by die rugby – ons het Hopefield geklop – en hy was so opgewonde. Ek weet nie of hy ’n voorgevoel gehad het of nie, maar dit was amper asof hy ons gegroet het. Hy het later ’n hartaanval gehad en is agter U-Save gekry,” verduidelik Solene Smith, ’n boesemvriend van Dowries.

Smith het Dowries as 17-jarige ontmoet en die twee het dekades van vriendskap gehad.

Visvang het Dowries reg oor die wêreld geneem – van Walvisbaai in Namibië tot in Portugal. Die Langebaner het sy hoërskoolloopbaan in gr. 10 by Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury voltooi, waarna hy en sy pa vir Tuna Fish Corporation begin werk het.

Daar was ook jare waarin hy walvisse gejag en met aktiviste van Green Peace te doen gehad het.

“Ek was altyd ’n visserman vir een van die groot maatskappye. Ek het nooit my eie onderneming as visserman gehad nie,” het Dowries in 2015 aan Masifundise, ’n organisasie wat streef om kleinskaalse vissers te bemagtig, vertel.

Dowries het in 2000 die eerste keer met Masifundise te doen gekry. Dié organisasie het vandeesweek sy medelye oor Dowries se heengaan gedeel.

“Rus in mag, Norton – jou werk en toewyding aan kleinskaalse visserye in Suid-Afrika sal vir ewig voortleef. Jy sal altyd erken en onthou word,” het die organisasie laat hoor.

Dowries was een van talle kleinskaalse vissers wat destyds binne die Weskus Nasionale Park visgevang het. Ná ’n verandering in sonering en regulasie kon vissers sedert 2011 nie meer in hul historiese visvanggat vang nie. Hy was een van die vele Langebaners wat hulle tot die Wes-Kaapse hooggeregshof gewend het om weer in sone B van die Langebaan-strandmeer te kon visvang. Dit was ’n blye dag in Oktober 2016 toe die hof in die plaaslike vissers se guns beslis het.

“Tussen ons het ons al die hofsake bygewoon. As ek nie daar kon wees nie, het hy gegaan en alles kom vertel. Hy het die afgelope paar jaar afgeskaal nadat hy ’n hartaanval gehad en onlangs sy skouer in ’n val gebreek het. Tog was hy steeds saggies aan die gang.

“Ek sal hom altyd vir sy leierseienskappe onthou. Hy het altyd die praatwerk gedoen, maar hy het niks van konflik of ’n stryery gehou nie. Hy het na al die vissersvergaderings en werksessies gegaan en teruggekom met nuwe kennis en vaardighede. Só het hy dit huis toe gebring en toegesien dat mense bemagtig word,” sê Smith.

Benewens sy werk as visser was Dowries se bloed danksy die Langebaan-rugbyklub blou. Hy was ’n kranige rugbyspeler en hier was hy ook ’n stigterslid. Die klub is op 15 Junie 1969 gestig toe ’n groep tienerseuns, onder wie Dowries, op ’n oop stuk veld begin speel het.

’n Diens word vanaand (Donderdag) by die Langebaanse Anglikaanse kerk gehou met sy begrafnis wat Saterdag om 08:00 by dieselfde kerk plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article