“Ek hoor hulle kla so dat ’n mens nie die De Ruyter-mannetjie se nuwe boek mag lees nie. Maar iemand het op ons buurt se WhatsApp-groep ’n digitale weergawe van die boek gedeel. Mag ’n mens dit lees?” vra iemand my onlangs.
Die persoon het gepraat van André de Ruyter se nuwe boek, genaamd Truth to Power. Die boek wat onlangs vrygestel is, het die nuus gehaal, maar nie vir goeie redes nie.
Nee, die uitgewers dreig met regsaksie teen diegene wat ’n onwettige pdf-formaat van De Ruyter se nuwe boek so oop en bloot op WhatsApp begin deel het.
“Die boeke kos mos nie baie nie, so dit maak seker nie saak nie,” sê iemand ook onlangs op Facebook.
Dit doen. Dit maak saak.
Vir elke boek wat ’n skrywer verkoop, maak hy/sy baie min geld, maar dis darem iets – dis ’n brood en ’n melk op die tafel. Dit bevorder Afrikaans, asook Engels. ’n Nuwe boek en ons taal (of dit nou Afrikaans, Engels, Xhosa of enige van die ander amptelike tale is) bevorder ’n mens se kultuur.
Daardie boek van De Ruyter, wat jy so maklik op WhatsApp deel en steel-lees, vat nie net die brood van die skrywer weg nie, maar ook die taalversorger, redakteur en ’n klomp ander mense wat ook ’n lewe uit so ’n boek maak.
“Ja, maar De Ruyter is ’n miljoenêr; dit pla hom nie,” hoor ek van julle sê.
Vir hom gaan dit dalk nie oor die geldelike aspek nie, maar oor die eerlikheidsaspek.
Ek lees onlangs ’n skrywer van oorsee het iets mooi oor ’n boek wat hy vir iemand moes teken, geskryf. Hy vertel die leser het hom vertel sy het die boek by ’n tweedehandse winkel gekoop en wou graag hê die skrywer moes dit onderteken. Hy het dit met ’n glimlag gedoen, want iewers moes iemand geld uithaal om die boek nuut te koop en die leser moes ook geld (dalk ’n bietjie minder) uithaal om daarvoor te betaal.
Vir die skrywer gaan dit meer oor die feit dat mense sy boek lees en geniet, maar hulle betaal vir die boek, neem dit uit by ’n biblioteek of leen dit by die buurman. Die boek word gelees, en dit word reg gelees.
Die pdf-weergawe van ’n nuwe boek op die mark wat jy verniet kan lees, is onregverdig – dis onregverdig vir die skrywer en uitgewer; dis onregverdig vir jou taal. Dis diefstal. So, volgende keer as jy ’n pdf van ’n boek op WhatsApp kry, moet jy die persoon wat dit vir jou gestuur het, uitskel. Die deler is so goed as die steler.





