Almal se geliefde Liewe Heksie is terug. Dié keer span sy haar besem as ’n visstok in, maar dit sukkel maar om ’n vis te laat byt. Sy raak vreeslik opgewonde toe sy wel daarin slaag: “Haai oe, dis vir my so lekker as ek ’n vis vang. Dan sing ek sommer ’n liedjie en die vis wil saamsing. Ek weet, want sy bek gaan so oop en toe.”
Liewe Heksie het dringend julle hulp nodig. Verna Vels se immergroen verhale kry lewe met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie. Margit Meyer-Rödenbeck is die nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf.
Liewe Heksie is vir die hele gesin en word Saterdag (20 Mei) om 10:00 en 12:00 by Die Koelkamers aangebied.
Kaartjies kos R120.
Besoek www.diekoelkamers.com vir besprekings en nog inligting.




