Die SA Meesters- baan- en veld-atletiekkampioenskap het vroeër vandeesmaand in Groenpunt, Kaapstad, plaasgevind en die Weskussers het weer eens hul spiere gebult en hul staal gewys.
Lede van die Salkoriane-atletiekklub het van Donderdag 4 tot Saterdag 6 Mei aan verskeie items in die kompetisie deelgeneem en met goue, silwer- en bronsmedaljes teruggekom.
Die Vredenburg-atlete was lid van die Boland-span. Onder die uitblinkers was Eugene Gouws, wat die eerste keer aan die kampioenskap deelgeneem het. Hy het besonder goed gevaar in die spiesgooi (22,04 m) en gewigstoot (7,58 m). Dié prestasie het hom twee goue medaljes besorg.
Sakkie Mentoor was tweede in die verspring vir sy ouderdomsgroep met ’n sprong van 3,34 m en het ’n silwermedalje gewen.
Welize Dokter het ’n bronsmedalje ontvang vir haar afstand van 11,55 m in die spiesgooi. Hennie Basson was derde in die gewigstoot met ’n afstand van 5,83 m. Die res van die klubatlete se uitslae: Veronica Le Roux: 5,83 m en vierde in gewigstoot, Patricia Mentoor was vierde in spiesgooi in haar ouderdomsgroep met ’n 9,31 m-gooi, en Piet Dokter vierde vir sy 17,88 m-afstand in spiesgooi.
Rencia Swartz, die klub se meester-groentjie, het reeds in die top-10 van haar ouderdomsgroep in spiesgooi geëindig. Met ’n afstand van 7,91 m meen die klub sy kan met tyd net nog beter presteer. Die atlete fokus nou op die Afrika-kampioenskap wat in November ook in die Groenpunt-stadion beslis word.





