St. Helenabaai was Saterdag die begrafnisondernemer op die grafkelder en het Young Hearts se kis met 32-21 laat sak.
St. Helenabaai het wel stadig begin en die tuisspan het ’n 0-9- voorsprong geniet danksy drie strafskoppe.
Die Albatrosse uit die Agterbaai het met skitterende verdediging die tuisspan verhinder om verdere punte aan te teken terwyl die span self verskeie kanse verbrou het met verlore aangeë of om die bal aan te slaan.
St. Helenabaai wat ook gesukkel het om hul lynstaanbesit te behou, het egter met ongeveer 10 minute oor in die eerste helfte skielik nuwe lewe gekry en met drie drieë geantwoord om rustyd 17-9 voor te wees.
Die twee spanne het daarna mekaar deeglik beproef met skitterende agterlynbewegings en rotsvaste verdediging.
St. Helenabaai het egter nooit die tuisspan toegelaat om die wedstryd te dikteer nie en het elke keer as die tuisspan punte aanteken met punte geantwoord. Die span se bonuspunt in die tweede helfte was ’n juweel toe Garth Cleophas met verskeie Young Hearts spelers op sy rug oorgeval het.
Die oorwinning het ook die span se tweede plek op die punteleer versterk en hulle blaas nou hard in die Boland- kampioen se nek.
Young Hearts sal ook hoop sy krukkelys sal herstel en die span het dit Saterdag gevoel. Die span moes byna die hele tweede helfte met 14 spelers oor die weg kom weens beserings. Die nederlaag het ook Reuben Abels se span verhinder om onder die vroeë voorlopers op die punteleer te wees.
Abels en sy troepe pak die naweek die verdedigende Boland-kampioen in Saldanha en maklik gaan dit beslis nie wees nie. Young Hearts beskik wel oor die vermoë om die kampioen te skok.
Mamre het in sy wegwedstryd teen Velddrif 32-33 vasgeval. Die nederlaag het die groentruie uit die derde plek gedruk en hulle beklee tans die vierde plek een punt agter Velddrif met Young Hearts in die agtste plek. Mamre, wat eerskomende naweek Paternoster onthaal, sal beslis die tuisveldvoordeel moet benut en ’n voltal punte sal die span se posisie net versterk.
Volledige uitslae, Weskus:
Paternoster 13-21 Saldanha; Young Hearts 21-32 St. Helena; Velddrif 33-32 Mamre; Piketberg 19-25 Vredenburg; Langebaan 28-22 Hopefield.
Swartland
Wesbank 68-8 Saron; Abbotsdale 19-17 Darling; Riebeeck United 12-24 Never Despair; Goodhopes 118-0 Villagers Wittewater; Moorreesburg 26-19 Porterville.
Spelrooster: Saldanha t. Young Hearts, Hopefield t. Velddrif, St. Helena t. Piketberg, Koringberg t. Langebaan en Mamre t. Paternoster.
Vredenburg geniet ’n loslootjie.





