Die bakkie met die kreef wat gisteraand in Laaiplek gekry is. Foto: SAPD


Vermeende kreefsmokkelaars is op Donderdag 1 Junie by Laaiplek, Velddrif, met 2 157 lewendige Weskus-krewe vasgetrap, waarvan 1 044 ondermaat was.

Die Weskus landelike blitspatrollie het inligting ontvang dat daar Weskuskreef in die aand in die omgewing van Laaiplek vervoer gaan word. Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het blitspatrollielede omstreeks 19:20 ’n wit Toyota Hilux met ‘n CFG-registrasienommer op pad in die rigting van Elandsbaai gewaar.

“Toe die insittendes in die voertuig die polisielede sien, het hulle omgedraai en by die Saamstaan-plaas se hek ingedraai. Die blitspatrollielede het hulle agtervolg en die insittendes gewaar waar hulle probeer wegkruip het,” het Helfrich gesê.

Die mans, onderskeidelik 47 en 37 jaar oud, is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op 1 113 groot krewe en die 1 044 ondermaatkrewe. Al die kreef was nog lewendig. Die waarde van die kreef beloop R215 700.

Die verdagtes verskyn vandag (2 Junie) in die Laaiplek-landdroshof. Helfrich het gesê dat die 47-jarige verdagte reeds in 2013 in Woodstock, Kaapstad, skuldig bevind is aan die besit van onwettige kreef.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article