Die khat wat by ’n 33-jarige man van Clanwilliam gekry is.


Mense raak glo baie spraaksaam onder die invloed van die blomplant khat (Catha edulis), vandaar die name soos “boesmantee”, “kletsboom” en “blom van die paradys”.

Dié plant raak al meer gesog onder stropers en smokkelaars vanweë die opwinding, verlies aan eetlus en euforie wat dié stimulant glo veroorsaak.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, is tien bondels khat, waarvan die blare óf gekou of as ’n aftreksel daarvan gedrink word, die afgelope naweek naby Clanwilliam by ’n vermeende stroper gekry.

In Suid-Afrika is khat ’n beskermde boom en die gebruik daarvan is onwettig. Dit kom voor in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Mpumalanga, en mense gebruik dit ook, volgens Wikipedia, om fisieke moegheid of honger te verminder en om aandag te verbeter. Omdat dit die katinoon-stimulant bevat, veroorsaak die gebruik van khat “ligte euforie en opgewondenheid, soortgelyk aan dié wat deur sterk koffie verleen word”.

“Stropers vervoer khat gewoonlik as vars blare en stingels in koerantpapier of plastieksakke om hul vog te bewaar en die katinoon kragtig te hou.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het khat in 1980 as ’n dwelmmiddel wat sielkundige afhanklikheid kan veroorsaak geklassifiseer, en dit is ook onwettig in Kanada, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State.

Daarenteen is khat wettig in lande soos Kenia, Uganda, Ethiopië en Somalië, waar die gebruik daarvan tradisioneel deel van die sosiale kultuur is.

Volgens Helfrich is die bondels khat Saterdagaand omstreeks 22:35 by ’n 33-jarige man van Clanwilliam op die N7 naby die dorp gekry. “Die polisie het inligting ontvang dat dié verdagte van Kaapstad af op pad is, waarop sy voertuig in ’n padblokkade voorgekeer is. Hy is in hegtenis geneem toe die khat by hom gekry is.”

Die man het Maandag in die Clanwilliam-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article