Nee, nee en nogmaals nee.

Dit was wat ’n groep kleinskaalse vissers en lede van die publiek te sê gehad het oor die beplande koms van Karpowership SA en ’n visplaas in die Saldanha se baai.

Dié groep het die afgelope naweek op Langebaan se strand byeengekom om hul ongelukkigheid te laat hoor.

Ten spyte van teenkanting teen Karpowership se kragskepe, het die nasionale departement van vervoer onlangs toestemming gegee vir die maatskappy om sy drie kragskepe in Ngqura, Oos-Kaap, Durban en Saldanhabaai te laat anker gooi.

Die aansoek om in die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) se waters vas te meer is op 26 Februarie vanjaar goedgekeur.

Volgens minister Sindisiwe Chikunga is TNPA geraadpleeg en het die goedkeuring van die aansoek ondersteun.

“Dit is om hierdie rede dat die minister die TNPA ruimte gegee het om die nodige besluite te neem in die implementering van hierdie direktief, soos die oorweging van die veiligheidsmaatreëls en bedryfsvermoë van hierdie direktief,” lui die departement se verklaring oor die saak.

Die goedkeuring kom egter nie sonder voorwaardes nie. Ingevolge die goedkeuring het die hawe-owerhede die reg om al die nodige kommersiële en veiligheidsvereistes of ooreenkomste in te sluit wat nodig geag word gedurende die tydperk van hierdie direktief.

Karpowership SA se bedrywighede is ook onderhewig aan alle ander regeringsgoedkeurings, soos omgewingsgoedkeurings van bevoegde staatsdepartemente en/of owerhede.

Dit sal egter ’n ruk wees voor daar uitsluitsel sal wees of Karpowership hul skip, met ’n beplande opwekkingskapasiteit van 320 MW, in Saldanhabaai mag vasmeer.

Green Connection in samewerking met plaaslike kleinskaalse vissers het ’n aansoek aan die departement van bosbou, vissery en die omgewing gerig om Karpowership SA se openbare deelnameproses te bevraagteken. Intussen het die Turkse kragopwekkingsmaatskappy sy omgewingsaansoek vir die Weskus onttrek.

Die groep wat die naweek in Langebaan byeengekom het se boodskap aan Karpowership SA was duidelik – “voetsek”.

Die vissers meen die omgewingsimpak van die kragopwekkingsprojek sal ’n direkte invloed op hul vangste hê.

Hoewel nie alle plaaslike vissers teen die koms van Karpowership gekant is nie, is daar ook diegene wat reeds sedert die beplanningsfase van die kragopwekkingsprojek daarteen gekant is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article