’nSewentienjarige motorfietsryer van Langebaan is in ’n geïnduseerde koma in die Kaap nadat sy motorfiets in ’n slaggat vasgehaak en hy op sy kop geval het.
Jay-Dee Pienaar (17), ’n matriekleerder aan Longacres-privaatskool, is ’n ervare en kranige motorfietsryer wat al van kleins af lief is om motorfiets te ry – maak nie saak of dit viertrek-, veldren- of padmotorfietse is nie.
Volgens sy ma, Chantel Pienaar, koop en verkoop Jay-Dee motorfietse vir ’n ekstra inkomste en het hy juis Saterdagoggend (3 Junie) ’n motorfiets verkoop.
Hy wou hom net ’n bietjie toets en seker maak hy “vat” en dat die enjin mooi loop, toe die ongeluk net buite hul kleinhoewe se hek gebeur het.
Die gesin is baie streng as dit by die dra van valhelms kom, verseker Chantel. “Jay-Dee sal nooit sonder ’n valhelm motorfiets ry nie.” Hierdie keer het hy egter nie een gedra nie, want “hy wou nie gaan ry nie, net seker maak dat die motorfiets reg is as die koper dit kom haal,” sê Chantel.
Van wat bure kon sien, het Jay-Dee nog skaars begin ry toe sy voorwiel in een van vele slaggate in die haglike teerpad vasgehaak het. Hy het glo oor die motorfiets se voorkant getrek en op sy agterkop te lande gekom. Sy pa, Bertus Pienaar, was dadelik by om te help.
Jay-Dee is met ’n gekraakte skedel en drukking op die brein per ambulans na die Life Weskus-private hospitaal geneem van waar hy later per helikopter na die Milnerton Medi-Clinic vervoer is. Hier het die dokters hom Sondag in ’n medies geïnduseerde koma geplaas om sy beskadigde brein ’n kans op herstel te gee.
“Hulle gaan hom Maandag uit die koma haal en dan eers sal ons presies weet waar ons staan,” sê Chantel.
Jay-Dee en sy bekommerde ouers sal dan uitvind of hy sy matriekeksamens vanjaar sal kan aflê en of hy sy droom om volgende jaar oorsee op luukse seiljagte te gaan werk sal kan bewaarheid.
Intussen is hulle as gesin oorstelp met al die mense wat hulle kontak en laat weet dat hulle vir Jay-Dee bid.
“Dis so goed om te sien dat ons mense nog kan saamstaan in moeilike tye. Jay-Dee is ’n larger than life-kind. Ek het nie geweet dat so baie mense hom ken nie.”
Sy vertel dat hy al uitgenooi is na geleenthede om sy motorfietstoertjies ten toon te stel en hy plaas ook video’s op sy Instagram-kanaal, “Awe-dis-JD”.
Jay-Dee het twee jonger broers, Jamie (12) en Nicholas (10).
Ná die voorval het Bertus by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) oor die toestand van die pad gaan kla.
Volgens Thereza Burger, woordvoerder van SBM, beplan hulle tydelike herstelwerk aan slaggate in dié spesifieke pad. Dit sal uitgevoer word soos wat die weer toelaat. Langtermynbeplanning sluit die pad se herseël in.





