Die polisie ervaar gewis ’n toename in sake-inbrake gedurende beurtkrag, en kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, maak melding van verskeie sake wat die afgelope week in dié verband aangemeld is. Sy maan sakeondernemings om ekstra waaksaam te wees ten tyde van beurtkrag.. Twee mans, 38 en 32 jaar oud, het Dinsdag (6 Junie) in die Vanrhynsdorp- rondgaande landdroshof verskyn in verband met die diefstal van R3 300 uit die kluis en R5 517 se drank. Hulle het na bewering tussen Woensdag 31 Mei om 17:30 en Donderdag 1 Junie om 07:55 by ’n winkel op Klawer ingebreek.. Diewe het tussen Donderdag 1 Junie om 16:45 en Vrydag 2 Junie om 07:00 by ’n kafee in Kerkstraat in Vredendal ingebreek. Sigarette ter waarde van R13 366 is gesteel nadat die verdagtes deur die dak toegang tot die perseel verkry het. Niemand is nog in verband met die diefstal aangekeer nie.. Diesel is tussen Vrydag 2 Junie om 16:00 en Saterdag 3 Junie om 08:00 uit die trekkers op ’n plaas in die omgewing van Riebeek-Wes gesteel. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.. Inbrekers het Saterdag 3 Junie by ’n gastehuis in Paternoster toegeslaan en ’n televisiestel ter waarde van R6 000 gesteel. Die polisie ondersoek die saak en soek nog na die inbrekers.. ’n Ongemonteerde kluis met R4 000 is deur die dak van ’n winkel in Sterlingstraat in Vredenburg gesteel. Die inbraak het tussen Saterdag 3 Junie om 15:00 en Sondag 4 Junie om 09:00 plaasgevind. Die polisie ondersoek die saak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Want to comment on posts, engage with fellow readers, and submit stories, letters, feedback and more?


