Vyf brose kinderlykies lê leweloos in die besige hoofweg iewers in die Kaapse metropool. Hulle was maar net op pad skool toe, soos sovele kere vantevore.

Ek was nie daar nie, maar ek kan my net indink wat hul laaste gesprekkies was in daai laaste oomblikke voor die noodlot getref het.

Vrolike kinderstemmetjies het dalk die reis op pad skool toe korter en lekkerder gemaak.

Kosblikkies was dalk net vinnig oopgemaak om vir die maatjie langsaan te wys wat mamma vir pouse ingesit het. Dalk was daar ’n pakkie skyfies en ’n ou soetdingetjie langs die pouse-broodjie ingepak en dalk ’n lief-jou-baie-notatjie van mamma en pappa.

Ek was nie daar nie, maar ek hoor die bande wat skreeu, die skok en gille van omstanders wat weerloos moes toekyk. Alles word in die chaos van die oomblik doodstil. Die brein weet nie wat om eerste te registreer van hierdie afgryslike gebeure wat voor jou afspeel nie. Dis die sirenes van die ambulanse en ander noodvoertuie wat die skokgolwe in die lug kom onderbreek. Dis ’n hartseer dag in ons land.

Vyf van ons kinderengeltjies is nie meer. Vrae en verwyte mag nie nou die oorhand kry nie, want iewers moet ’n mamma en ’n pappa nog die tyding van hul kleinding se skielike heengaan ontvang.

Ek was nie daar toe daardie hartverskeurende nuus gedeel word nie. Ek was wel een van hulle wat my gebed na Bo gestuur het – vir versterking, vertroosting en innerlike krag vir die ma en pa, ouma, oupa en familie van die engelkind wat nie meer is. My en ons harte is gebroke saam met hulle. Ons deel in die verlies, want dis onse kinders. Dalk nie met ’n biologiese band verbind nie, maar dis ons kinders op Afrikabodem wat nie meer beskore was om die volgende dag se Afrikason te sien opkom nie. En ons ween en Afrika ween, want ons is lief vir ons kinders.

Ek was nie daar nie, maar my oog en my hart sien die ruim speelterrein waar ons kloegoed maar soos oudergewoonte nog ’n pouse speel en baljaar. En ek hoor die opgeruimde skaterlaggies.

Die deel van die broodjie met die maatjie wat minder het, want mamma en pappa het geleer dat dit belangrik is om te doen. Daar is vir my niks so mooi as die onskuld en uitbundigheid van daardie oomblikke nie.

Lag, speel, groei en leer in ’n omgewing waar daar sorg, leiding, omgee en liefde is. En weg van speelterreine en klaskamers wag die veilige en liefdevolle spasie van mamma en pappa se huis. Word die taak van opvoeder, ondersteuner en versorger verder voortgesit?

Ek was nie daar nie, maar ek kan my net indink. Die pyn, verslaenheid en ongeloof – my kind is nie meer nie. Arms wat soekend en wagtend uitsien na nog ’n laaste drukkie. En ’n pappa wat ’n soen op die voorkop gee met die gevoelvolle laaste woorde – “luister en doen mooi wat juffrou en meneer sê in die klas”.

Ons harte is saam in rou as ons soos daardie pappa en mamma tot die besef moet kom dat die laaste klompie jare van laerskool nie meer daar gaan wees vir ons engelkind nie. Dat die grootskooljare en gepaardgaande groeipyne, lag, huil, vermaan en vertroos nie vir mamma en pappa beskore sal wees nie. Dat net die mooi herinneringe van die handjievol jare voor die noodlottige oggend sal oorbly.

Uit die seer van daardie verpletterende oggend kan net die hoop, gebed en wens uitgespreek word dat berusting sal kom.

Dat die pyn en verlies wat so intens ervaar word, sal plek maak vir heling en groei, want hoe dan anders? Kan ons net hoop dat die vrolike laggie van ons engelkind sal bly voortleef in die aksies van mamma en pappa wat daarna strewe om hierdie soms koue en ongenaakbare wêreld ’n beter plek vir ander te help maak.

Dat die trane van hartseer eens gestort sal plek maak vir trane van blydskap vir die volgende mamma en pappa wat dalk deur ’n soortgelyke ervaring mag gaan, want dis deur ons wegkyk van ons eie pyn en daarwees vir ander se pyn en lyding dat onsself heling bekom.

Dis weer Jeugmaand. Dis my wens, hoop en gebed dat die hartseer episodes van ander se verlies ons sal uitdaag om saam te staan. Dat ons harte nie sal ophou om warm te klop vir die veiligheid en beskerming van ons kinders en jeug nie.

Dat ons nie vir een oomblik sal skroom om daar te wees vir mekaar nie en dit deur woord, maar veral deur ons dade, sal wys. Soveel van ons kinders en jongmense word daagliks gekonfronteer deur die koue hand van ’n wrede grootmenswêreld.

Ek was nie daar nie, maar ek verbind my daartoe om saam met ander volwassenes in die gaping te staan vir ons kinders en jongmense. Want jou kind is my kind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article