Die NG kerk Laaiplek het Sondag 4 Junie ’n biddag vir blindes gehou.
Die erediens het die gemeente die geleentheid gegee om die diens te ervaar nes dié wat blind is. Ds. Charl van Rensburg vertel die gemeentelede het gebruik gemaak van maskers en dit op hul oë gesit met die aankoms by die ingang.
“ ’n Gids het hulle gelei om hul plek in te neem. Die voorsanggroep is ook blind gemaak, so die liedjies moes uit die kop uit gesing word. Die hele diens het in blindheid plaasgevind. Dit het die gemeenskap laat fokus op hul gehoor en hul ander sintuie,” sê Van Rensburg.
Hy glo die diens was belangrik omdat “ons as mense nie altyd dankbaar is vir wat ons het nie”.
Die ervaring het die gemeente in die wêreld van die siggestremde persoon gesit en hul ervaring op ’n manier beleef. “Dit was ook om vir die Here dankie te sê vir die voorregte en gawes wat ’n mens het en Hom die eer daarvoor te gee.”
Van Rensburg glo die gemeente het dit positief ervaar.





