’n Grusame ontdekking is Donderdagmiddag (22 Junie) gedoen toe ’n babalykie omstreeks 15:00 in ’n vrieskas in ’n huis in Noordhoek, Velddrif, gevind is.
Die polisie het die voorval bevestig.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus-distrik, ondersoek die Laaiplek-polisie ’n saak van “versuim om ’n dood aan te meld weens onnatuurlike oorsake”.
Die omstandighede wat tot die voorval gelei het, is nog onduidelik en word ondersoek.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisieondersoek behels ook om te bepaal wie die baba se moeder is.
’n Vrou wat in verband met die voorval ondervra is, word tans in ’n plaaslike hospitaal versorg.


