Die moordenaar van ’n 71-jarige Vredenburger in 2021 is verlede week tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Johannes Thomas is op 13 Augustus 2021 doodgesteek, nadat hy Jeffrey West (29) in ’n stoorhut op sy erf by Wilgerstraat 52 betrap het. West het ook ’n vrou by die huis aangerand.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-polisie, het Thomas se hond omstreeks 03:30 onophoudelik begin blaf waarop hy gaan ondersoek instel het.

AO Andries Kleynhans, die speurder aan diens, is na die toneel laat kom en hy het onmiddellik na die verdagte begin soek.

Hy het kort daarna op West afgekom waar hy besig was om Thomas se skoene te begrawe.

’n Tweede verdagte, wat met gesteelde goedere uit Thomas se huis betrap is, is later vrygespreek.

Helfrich het Kleynhans geloof vir sy volgehoue pogings om ’n misdadiger voor die hof te bring.

Benewens die tronkstraf vir die moord, is West bykomende vonnisse van sewe jaar vir huisbraak en diefstal, en drie jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, opgelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article