Hoewel ’n sewentienjarige van Langebaan ná ’n motorfietsongeluk nog met erge breinbeserings in ’n Kaapstadse hospitaal aansterk, het sy skool hom steeds vir die matriekeindeksamen ingeskryf.
Volgens Jay-Dee Pienaar se ma, Chantel Pienaar, ’n kleremaker van Langebaan, hou die Longacres- private skool ook sy plek by die matriekafskeid.
Haar en Jay-Dee se laaste WhatsApp-boodskappe vóór die ongeluk het juis oor uitrustings vir die komende matriekafskeid gegaan.
Jay-Dee is Dinsdagaand (20 Junie) na die neurologiese afdeling van die Mediclinic Milnerton oorgeplaas nadat hy nege dae in ’n geïnduseerde koma in die waakeenheid was. Hy het Saterdag 3 Junie sonder ’n valhelm gou ’n draai met ’n motorfiets, wat ’n koper later die oggend sou kom haal, gaan ry.
Die pad voor hul huis, Aintreestraat, Longacres, was vol slaggate en die motorfiets se voorwiel het in een vasgesteek. Jay-Dee, wat ’n ervare motorfietsryer is en van kleins af vierwiel- en veldrenmotorfietse ry, het op sy kop geval.
Vir Chantel is dit genoeg van ’n wonderwerk dat hy nie deur die val verlam gelaat is nie en kan loop, “al sleep sy regterbeen so ’n bietjie”.
Die skedelbreuk en erge breinbeserings tas nog sy spraakvermoë, geheue en ander vaardighede soos skryf aan. Hy is juis in die koma gesit om die swelling op sy brein kans te gee om te herstel.
’n Arbeidsterapeut leer Jay-Dee nou om van voor af dinge te doen, soos om sokkies aan te trek.
Die Pienaars het Woensdagoggend gewag op mediesefondsgoedkeuring om Jay-Dee na die Life Vincent Pallotti-rehabilitasie-eenheid in Pinelands oor te plaas. Die dokters het aan hulle gesê dit kan enigiets van ’n maand tot agt maande duur voordat Jay-Dee sal kan huis toe gaan.
“Dis nog ’n helse lang pad wat vir ons voorlê, en by die huis sal hy steeds spraak- en arbeidsterapie moet kry.”
Jay-Dee herken sy gesin, maar sukkel om met hulle te kommunikeer.
“Ons verstaan so ’n derde van wat hy probeer sê, maar die res is nog maar ’n gebrabbel.”
Weens die kognitiewe funksies wat nog nie herstel is nie, raak Jay-Dee self gefrustreerd en oorweldig omdat hy nie sy gedagtes aan hulle kan oordra nie. Chantel sê Jay-Dee is ’n kind wat gewoonlik verskriklik baie praat, maar nou word hy gou moeg, skud net sy kop en vryf oor sy gesig as hulle hom nie verstaan nie.
Maar dat hy wil huis toe gaan, is duidelik, want hy sê glo kort-kort net “asseblief, Mamma . . . Langebaan”.
By die huis wag sy twee jonger broers, Jamie en Nicholas, sy pa, Bertus, en sy ouma Arina Pienaar, wat intussen help om die seuns te versorg.
Dit is moeilik vir Chantel, wie se ma, Marlene Stoltz, haar getrou bystaan, maar hulle gryp na elke halmpie en hou vas aan elke ligpunt om positief te bly.





