Hierdie jaar is seker een van die natste en koudste winters wat ons in ’n lang tyd ervaar het. Dit laat ’n mens dink aan daai tye toe die oumense van die agt-dae- reën gepraat het. Ja, dit het glo letterlik ’n volle agt dae aaneen gereën. Ek kan nog so vaagweg iets daarvan uit my kinderdae onthou. Kan nie presies onthou hoeveel dae dit was nie, maar dit het baie gereën.

En as die winter so koud en nat is, dink jy onwillekeurig aan hulle wat nie so bevoorreg is om saans in ’n warm bed te slaap of ’n ordentlike dak oor die kop het nie. Jou hart gaan uit na diesulkes – die bejaardes, kindertjies, diere en sommer almal wat deur die nat en koue toestande geraak word. Vir die reën sal ’n mens ook maar altyd dankbaar wees, want ’n paar jaar gelede toe bid ons almal baie ernstig dat dit tog net weer moet reën. Die damme was vinnig besig om op te droog en waterbeperkings is oral ingestel.

Dit voel soos gister toe ons almal daai paniek van ’n moontlike “dag zero” beleef het. En almal in die Wes-Kaap het die asem opgehou. Uiteindelik is daai erge droogte gebreek en kon ons weer asemhaal danksy mildelike reëns wat neergestort het. Die paar winters daarna het vir die nodige hoeveelheid reën gesorg en ons kon ons lewe met dankbare harte voortsit. Dan word die spreekwoordelike hemelse sluise oopgedraai soos nou en ons is bly, maar terselfdertyd ook besorgd oor ons medeburgers wat nie so bestand of beskut teen die mildelike stortvloed van water is nie.

Die skade wat aangemeld word, ruk jou aan die hart, maar soos telkemale in die verlede weet ons dat ons as Suid-Afrikaners oor die vermoë beskik om weer uit die stof te herrys, ongeag die skade en pyn wat gely is. Dis wie ons is.

Wie daar is om ’n helpende hand te verleen, is ’n ander vraag. Wat ons wel geleer het, is dat dit veral ons doodgewone landsburgers is wat daai helpende hand onvoorwaardelik verleen. Hierdie winter is dit by uitstek die geval. Waar ook al nood is, word noodleniging ruimskoots verskaf. Die potte sop, warm klere, ander noodvoorrade en beskutting word met deernisvolle harte verskaf en voorsien.

Met ons paaie en ander infrastruktuur wat hierdie keer erg beskadig is, bly ons hoopvol dat geliefdes so gou as moontlik weer met mekaar herenig sal word; dat die noodsaaklike kosvoorrade binnekort weer onverpoosd ons dorpe sal bereik; dat gesinne weer hul huise van herkoms sal kan betree en bewoon. Dis ons almal se stille gebed en hoop. Bowenal is dit ons gebed dat ons mense lewensverlies gespaar sal word.

Dis veral in tye soos nou, met die winterstorms, dat ons die dapper optredes van hulle wat die voorste linies moet betree, so waardeer – die manne en vroue wat nie vir een oomblik aan hulself dink as die lewe van ’n medeburger daarvan afhang nie. Ons salueer hulle. En so saam met hierdie manne en vroue van verskeie noodlenigingspanne sit vrywilligers ook hand by. Een hiervan is ’n prentjie van ’n dapper vrou uit Vredendal se wêreld, wat ’n ander vrou sommer op haar skouer na veiligheid dra. Dis ’n prentjie wat boekdele spreek en weer hoop inblaas en jou vertroue in jou medemens herstel.

En as die volgende kouefront weer begin dreig, laat ons krag put uit die onbaatsugtige naastediens van ons mede-landsburgers, wat hul hande vuil maak om seker te maak die weerloses teen die natuur-elemente ’n het veilige plekkie om te rus en iets om die hongerpyne weg te hou. Meer nog – ek vertrou ek en jy sal so geïnspireer word dat ons self betrokke sal begin raak en sal weier om net ’n toeskouer te wees.

Op een van my daaglike roetinestappies in die skilderagtige Riebeek-Kasteel sien ek huise met hoë mure en diefwering. ’n Mens verstaan die rasionaal (logika) hieragter. Ons almal wens dit was andersom, maar dit is wat dit is . . . vir nou.

Ek stap verby een van hierdie huise met sy netjies geïnstalleerde diefwering. By die voorhek trek iets my aandag. Dis ’n boks. Die boks is gevul met suurlemoene. By die hek hang daar ’n A4-grootte plakkaat met die woorde: “Lemons for free. Take what you need.”

Die paar woorde tref my soos ’n emmer yswater. Iemand dink aan sy naaste. Die koue winter bring siektes soos verkoue en griep. Iewers kan iemand daardie suurlemoene, wat propvol vitamines is, gebruik. Dis lemoen- en nartjietyd in die Wes-Kaap, en met die mooi oes wat weer hierdie jaar sy verskyning gemaak het, het die man met die hoë mure en diefwering gekies om sy hart en hand oop te stel vir sy medemens en te deel uit die oorvloed wat hy en sy gesin beleef.

Ja, hier in ons mooi streek gebeur hierdie pragtige gebare.

Dis veral die laaste vier woorde wat my diep raak. “Take what you need” en nie neem soveel as wat jy wil nie. Dis winter – kom ons help mekaar met dit wat ons nodig het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article