Ná 18 jaar van diens met ’n glimlag het die petroljoggie Elizabeth “Betsie” Fransa haar getroue klante gegroet.
Betsie, soos almal haar ken, het in Maart 60 geword en besluit om haar aftrede te gaan geniet. Vele inwoners van Velddrif, Laaiplek en Noordhoek ken Betsie wat jare lank by Bergrivier-motors se vulstasie in Laaiplek was. Haar klantediens het haar verskeie jare die titel van rybaan-assistent van die jaar van die Velddrif-sakekamer besorg. Sy hou vanjaar weer dié titel.
“Vanoggend toe die wind so waai was ek beslis bly ek is klaar gewerk,” het sy Donderdag gesê.
Sy sê sy was nog altyd iemand wat nie kon stilsit nie en wou selfs as kleintjie ander laat lag. “Hulle het my ’n ruk agter die rekenaar daar binne gesit, maar jinne, dit was nie vir my nie! Ek kan nie heeldag só sit nie. Ek wil by die klante wees,” het sy in 2018 aan Weslander verduidelik nadat sy die Sakekamer-toekenning gewen het.
Betsie sê dit was seer om afskeid van haar werk te neem, maar sy kan nou rus en op haar familie fokus. Sy het reeds op ’n “toer” gegaan en vriende van Atlantis, Morningstar en Dunoon gaan besoek ná haar laaste dag by die werk. “Volgende is Goedverwacht. Ek wil net eers die opgraderingswerkies aan my huis klaarmaak, dan sal ek daar gaan kuier,” verduidelik sy.
Betsie sê haar werk was nie altyd maklik nie. Soms het mense in allerhande buie by haar aangekom, dan moes sy vriendelik wees. Sy vertel daar was ook diegene wat vele versoeke gehad het, soos om een soort brandstof in hul voertuig te gooi en dan ’n ander in ’n houer vir by die huis. “Dan is hulle self so deurmekaar, hulle weet nie wat hulle gesê het nie. Kom hulle by die huis, dan vind hulle uit dit moes anders om gewees het. Dan kom hulle terug en raas met my. Ek het nooit geskroom om die blaam te vat wanneer ek verkeerd was nie, maar dit was nou alles deel van my ervaring.”
Betsie sê nog ’n uitstaan-tyd vir haar was die pandemie. Sy en haar kollegas is as noodsaaklike werkers beskou en moes deur die Covid-inperkings werk. “Dit was baie onseker tye. Ons was vreesbevange en nou en dan moes ons dokter toe om te hoor ons is siek. Ten spyte daarvan is ons deurgedra.”
Haar advies aan enigeen wat die beste klantediens wil bied, is om nooit op te gee nie. “God sal jou deurdra. Ek wou nog altyd vooruitgaan en beter doen. Met passie en ’n smile kan jy baie bemagtig. Bly gemotiveerd en jy sal jou mylpaal bereik,” meen sy.
Betsie sê sy het in die Sandveld grootgeword en haar tyd op die plaas geniet. Dit was haar skoonsuster, vir wie Betsie destyds vir haar kraamverlof moes instaan, wat haar in 1984 na Velddrif gebring het. Sy het later besluit om te bly. Betsie nooi veral haar ou klante en kennisse om in kontak te bly en te Whatsapp by 071 813 0346.





