Ananda Hugo, ’n 38-jarige seisoenale werker, wat op Vrydag 28 April in Riebeek-Wes na bewering deur ’n bekende wynboer van die omgewing doodgery is, se dood is deur erge kopbeserings veroorsaak, het die lykskouingsverslag aangedui.
Weslander het vroeër berig Pieter du Toit (39) het Woensdag 3 Mei in die rondgaande hof in Riebeek-Wes op aanklag van strafbare manslag verskyn.
Hugo se jongste kind, Nikita Hugo (4), wat sy ten tyde van die voorval geabba het, is ook in die voorval beseer. Sy word tans deur familielede versorg.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisie, het gesê Ananda is sowat 130 m ver deur die voertuig gesleep. Die lykskouingsverslag dui daarop dat sy weens veelvuldige kopbeserings wat sy met die kragtige slag opgedoen het, gesterf het.
Sy is op die toneel dood.
Du Toit het na bewering nie ná die ongeluk stilgehou nie, maar na sy huis gevlug, waar hy in hegtenis geneem is.
Du Toit moet weer Woensdag 19 Julie in die hof verskyn. Hy is tot dan op voorwaardelik borgtog.



