Die “Vingerhoedhuisie” in Saldanha.Foto: Saldanha Nature & History


Wat maak ’n gebou histories?

Dit is wat sommige Saldanhabaaiers nou wonder nadat planne vir die sloop van die sogenaamde “Vingerhoedhuisie” op die hoek van Kamp- en Manitokastraat, in Saldanha, bekend geword het. Ontwikkelaars is van plan om die tweeverdiepinghuis met sy rondawel en rietdak plat te stoot en ’n woonstelblok op te rig.

Ingevole die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne mag niemand ’n struktuur of ’n gedeelte van ’n struktuur wat ouer as 60 jaar is, verander of sloop nie. Dit kan slegs gedoen word indien ’n permit deur die betrokke provinsiale erfenishulpbronne-liggaam uitgereik word.

Saldanhabaaiers het onlangs op ’n kennisgewing wat aan ’n lamppaal vasgeplak is, afgekom. Volgens dié kennis­gewing kon belangstellendes tot 16 Junie kommentaar lewer oor die beplande sloping van die Vingerhoedhuisie.

Die erf waarop die vingerhoedhuisie staan, is glo eers deur die Saldanhabaai-hawe en Spoorweg-maatskappy in 1914 verkry. Die grond was eens deel van Hoedjiesbaai wat glo uit 3 000 erwe bestaan het.

Oor die jare heen het die grond vele eienaars gehad en is verskillende ondernemings op die erf bedryf. Talle mans onthou hoe hulle destyds, in die 1960’s, hul hare by oom Daantjie Binneman laat sny het. “Short back and sides!” het ’n ou kliënt onthou.

Deesdae staan die gebou leeg.

Volgens Lize Malan, stadsbeplanner en erfeniskonsultant wat die dokument vir openbare kommentaar saamgestel het, kan die gebou met die rondawel op ’n lugfoto van 1937 gesien word.

Tydens ’n ondersoek van die struktuur is gevind die huis het vele verskillende style soos veranderings aan die struktuur gemaak is.

Die Weskus spog met talle historiese geboue wat oor die jare heen gerestoureer is. Hoe dit ookal sy, hierdie strukture het almal ’n ryk geskiedenis en het oor die dekades, selfs eeue heen, ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die Weskus se dorpe gespeel. Die “ou vishuis” en historiese kalkoonde in Yzerfontein is een só ’n gebou. Die twee historiese kalkoonde naby Yzerfontein is gebruik om sement van mosselskulpe te maak. Mosselskulpe is verbrand en die as is uitgekrap en met water gemeng om sement te maak of met sout gemeng wat as ’n witterige verf gedien het. Vet is by die as gevoeg om die mure waterdig te maak.

Darling-museum in die ou stadsaal wat in 1899 gebou is, is deesdae die dorp se museum in Pastoriestraat. In hierdie museum is onder meer ’n versameling historiese toerusting en goedere te sien wat die begin van die bottermaak­bedryf in Darling uitbeeld.

Hoewel Saldanha nie ’n museum het nie, is heelwat van die dorp se geskiedenis in die Gerald Stoffberg Saldanha Cultural Village te sien. Dié sentrum op die Hoedjieskop-heuwel is waar die ou oorspronklike vissershuisies te sien is.

Wat die Vingerhoedhuisie betref, meen Malan daar is min van historiese belang aan die gebou, gegewe die verskeie veranderings wat aangebring is. Indien die ontwikkelaars se aansoek slaag, sal twee- en drieslaapkamer-woonstelle met ’n enkelmotorhuis by die Vingerhoedhuisie se adres pronk. Malan het by navraag gesê die aansoek aan die Nasionale Erfenisraad is nog nie ingedien nie, maar het bevestig die publiek se kans om kommentaar te lewer het verstryk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article