AVBOB het onlangs ’n onderwys-ondersteuningsprogram, AVBOB STEP 12, van stapel gestuur, wat daarop gemik is om leerders vir hul gr. 12-taaleksamens voor te berei.
AVBOB STEP 12 bestaan uit gratis eksamenvoorbereidingsgidse vir gr. 12-onderwysers en -leerders.
Die AVBOB STEP 12-program is spesifiek gemik op die taalvakke in die gr. 12-leerplan. Die program is ontwikkel om gr. 12-leerders te help uitblink in sowel hul moedertaal as hul eerste addisionele taal, aangesien albei verpligte vakke is wat met ’n minimum van 40% geslaag moet word.
“Met STEP 12 stel AVBOB ’n nuwe kanaal bekend om ons verbintenis tot die ondersteuning van onderwys in Suid-Afrika te toon, tesame met ons voortgesette beleggings in geletterdheidsprogramme, skole-infrastruktuur, vraghouerbiblioteke en die ondersteuning van die poëtiese kunste,” sê Carl van der Riet, uitvoerende hoof van AVBOB.
Die AVBOB STEP 12-program sal beskikbaar wees in al elf amptelike tale, met drie eksamenvoorbereidingsgidse per taalvak, wat altesame 33 studiegidse beteken.
“Ons hoop die AVBOB STEP 12-program sal as ’n bloudruk dien vir onderwyser- en leerderondersteuning, en ander segmente van die private sektor sal begin saamwerk en soortgelyke programme ontwikkel vir nog gr. 12-vakke, soos wiskunde, natuurwetenskap en sakestudies,” voeg Van der Riet by.
Die studiegidse is saamgestel met die doel om leerders se prestasie in die drie vraestelle in elke taalvak te verbeter, naamlik Taal in konteks, Literatuur en Skeppende skryfwerk. Die suksesvolle aflê van hierdie vraestelle is vir leerders nie net van kritieke belang om matriek goed te slaag nie, maar ook om hulle vir verdere studie voor te berei, terwyl dit terselfdertyd noodsaaklike vaardighede soos doeltreffende kommunikasie in die werkplek en in sosiale situasies oordra en ook onmisbare denkvaardighede ontwikkel. Vakkundiges met omvattende ervaring in die opvoedkundige sektor tree op as adviseurs vir die program.
Die struktuur en inhoud van die eksamenvoorbereidingsgidse is gegrond op die kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring soos voorgeskryf deur die departement van basiese onderwys (DBO).
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het die inisiatief verwelkom en die DBO se gedeelde doelwit van voortgesette leerderprestasie benadruk – ’n poging wat deur noue samewerking soos dié tussen die onderwyssektor en verskillende rolspelers versterk word.
Motshekga het alle gr. 12-taalonderwysers en opvoeders van matriekleerders aangemoedig om die eksamenvoorbereidingsgidse te gebruik. Die departement het die AVBOB STEP 12-leermateriaal geëvalueer en ondersteun hierdie inisiatief as ’n waardevolle hulpbron vir leerderontwikkeling.
Hoewel die gidse gemik is op gr. 12-leerders om hulle met die voltooiing van hul finale skooljaar te help, kan die voordele daarvan reeds aan gr. 11-leerders oorgedra word wat ook by die blootstelling aan die doelwitte soos uiteengesit in die gr. 12-leerplan kan baat vind. Die AVBOB STEP 12-eksamenvoorbereidingsgidse is, wat samestelling en inhoud betref, gegrond op behoeftes wat uitgewys is deur onderwysers wat hieroor gekonsulteer is.
AVBOB, as deel van sy korporatiewe maatskaplike belegging, het die onderwys as ’n kritieke sektor geïdentifiseer, en het – in reaksie daarop – sy vlagskipprogramme rondom geletterdheid en opvoeding ontwikkel om die regering by te staan om ’n gehalte-leerproses en -onderrig in skole te versterk.
AVBOB en die DBO het ’n lang samewerkingsvennootskap in hierdie sektor en streef daarna om ’n blywende invloed op die opvoedingslandskap te ontwikkel.
Hoe om toegang te kry tot die AVBOB STEP 12-program en -eksamenvoorbereidingsgidse
Die AVBOB STEP 12-gidse kan van 14 Junie af gratis afgelaai word by www.avbobstep12.co.za.
Die AVBOB STEP 12-Facebook-blad (www.facebook.com/AvbobSTEP12) dien as ’n bymekaarkomplek vir gr. 12-onderwysers.




