’n Speler van Saldanha probeer deur die verdediging van Mamre bars in hul wedstryd in Mamre.Foto: Murphy Roberts


Saldanha se blou tsunami is Saterdag deur die groen truie van Mamre gewys hoe hanteer ’n mens ’n tsunami.

Die verdedigende Boland-kampioen het Mamre besoek in hul eerste wedstryd van die Grootuitdaagbeker se tweede ronde. Saldanha was voor die wedstryd gerieflik voor die derde geplaaste Mamre met ses punte, maar is met hul stert tussen die bene sonder ’n enkele punt uit Mamre. Saldanha, wat rustyd 13-17 voor was, het die wedstryd 17-30 verloor en is nou net ’n enkele punt voor die span van Kenny Stadler.

Saldanha is reeds vroeg in die wedstryd deur die tuisspan met ’n onverdoelde drie geskud. Saldanha het egter daarna die voordeellyn met mening aangeval en die tuisspan se dissipline het die besoekers in staat gestel om die telbord aan die rol te hou.

Mamre het egter nooit toegelaat dat die verdedigende kampioen die wedstryd oorheers nie en met rotsvaste verdedi­ging Saldanha op die agtervoet gehou.

Saldanha, wat nooit regtig in die eerste helfte aan die gang kon kom nie, moes ook meeste van die tyd verdediging doen en in hul eie gebied speel. Die kampioen se punte het gekom van die tuisspan se swak dissipline binne trefafstand.

Die tweede helfte was daar egter net een span op die veld en met 15 groen truie wat hul lyf op die spel geplaas het, kon die kampioen nie voordeel trek uit die tuisspan se twee geelkaarte nie.

Saldanha het wel by tye soos die kampioenspan gespeel, maar hanteerfoute en individuele spel het hulle egter verhinder om punte aan te teken. Mamre het tot groot vermaak van hul ondersteuners ’n bonuspunt verseker.

. Paternoster begin sy tweede ronde Saterdag op die grafkelder en sal die tuisspan se kis moet laat sak met meer as sewe punte en ’n bonuspunt om Saldanha uit die eerste plek te druk. Mamre, wat ’n blaaskans neem, sal egter hoop hul buurman stap as oorwinnaars van die veld om hul tweede plek te verseker.

. Saldanha sal die naweek hoop dat hul eerste ronde-nederlaag teen Hopefield geen sielkundige letsels agtergelaat het nie, wanneer die twee spanne mekaar in Saldanha pak.

Weskus-uitslae: Mamre 30-17 Saldanha, Velddrif 22-19 Young Hearts, Langebaan 39-24 Piketberg en Hopefield 22-29 St. Helenabaai.

Swartland: Never Despairs 34-25 Saron, Goodhopes 20-24 Moorreesburg, Riebeeck United 11-46 Wesbank en Porterville 26-17 Abbotsdale.

Die naweek se spelrooster

Weskus: Young Hearts t. Paternoster, Piketberg t. Velddrif, Vredenburg t. Langebaan, St Helenabaai t. Koringberg en Saldanha t. Hopefield.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article