Die span van die departement van maatskaplike dienste wat Familiedag aangebied het is: Luke van der Heever, Cathleen Nell, Cindy Beukes, Jorell Benjamin, Anna Faro en (voor) Abraham Smith, Astrid-Anne Valentyn en Charlotte Adams.

Yaël Malgas

Familiedag is Vrydag in Vredenburg gevier met ’n op-en-wakker en leersame program.

Die dag is deur die plaaslike departement van maatskaplike dienste en verskeie ander rolspelers aangebied. Kinders is vermaak en het nuttige inligting geleer, terwyl hul ouers ’n sessie oor ouerskap bygewoon het.

Die dag is begin met aërobiese oefeninge.

“Ouerskap en positiewe ouerskap” is deur Naomi Meyer aangebied en het ouers praktiese vaardighede en advies gegee oor hoe om met hul kinders te kommunikeer. “Te gereeld vra ons ons kinders ‘hoe gaan dit?’ en al wat ons hoor is ‘dit gaan goed’.

“Baiekeer is dit omdat kinders nie bewus is van hul werklike emosies nie. Hulle het nie ’n naam vir wat hulle voel nie. Dan is dit belangrik vir ouers om te sit en met hulle te praat,” meen Meyer.

Sy het verduidelik soms is ouers se styl soos ’n malvalekker (saggeaard en gee maklik in vir die kind), soos ’n klip (streng en onbuigsaam), soos ’n vraagteken (afwesige ouers) en dan is daar die bal-styl van ouerskap. “Hierdie is wanneer ons nie te hard of te sag is nie, maar buig saam en goed gebalanseer,” het sy verduidelik.

Elke styl het sy voor- en nadele wat weer ’n spesifieke reaksie van die kinders kry. Meyer verduidelik dit help ook nie as elke ouer in ’n paartjie sy eie styl toepas en daar nie eenvormigheid is nie. Dit verwar glo net die kleinspan.

“Jy kan nie jou kinders se emosies beheer nie, net hoe jy reageer en hoe jy dan met die kinders praat.”

Meyer raai ouers aan om na die redes agter hul kinders se gedrag te kyk, om konstante en konsekwente reëls te skep en om onder meer nie kinders te probeer omkoop nie.

Sy maan ouers om ook te onthou dat kinders dit wat hulle sien onthou en nie noodwendig wat hulle voorgesê word nie.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, was Meyer se sessie veral belangrik omdat elke misdadiger uit ’n huis kom.

“Dit is goed om so baie ouers hier te sien, maar meer sal beslis by die sessies kon baat vind. Elke misdadiger kom uit ’n ouerhuis en dit is waar die grondslag gelê word. Ouers moet kyk na hul eie gedrag en positiewe gedrag vir hul kinders kweek deur by hulself te begin,” het Helfrich gesê.

Helfrich, namens die Suid-Afrikaanse polisiediens, was een van die vele rolspelers wat stalletjies in die Posduif-saal vir die dag opgerig het.

Charlotte Orlam-Talmakkies, maatskaplike werker van Child Welfare, sê dit is vir die gemeenskap om te weet waar om vir watter soort hulp aan te klop.

“Familiedag is waardevol en noodsaaklik vir die gemeenskap om te weet wat elke organisasie doen en watter gebiede hulle dek. Child Welfare werk in Yskor, Selfbou, Noordkuil en Bou-vier, maar ander gedeeltes van Louwville word deur ander organisasies ondersteun,” het sy verduidelik. Die dag was ook ’n geleentheid vir uitstallers om die verskeidenheid van hul dienste bekend te stel. Mircia Jaars, assistent by die Sandveld-hospies, sê hoewel dié organisasie se hoofdoel is om palliatiewe pasiënte en families te ondersteun, hulle ook programme oor gesonde leefstyle en positiewe ouerskap aanbied.

Mfesane het op sy beurt ’n gesondheidspraatjie aangebied.

Hierdie netwerk van organisasies en rolspelers is juis wat die departement aan die gemeenskap bekend wou stel.

Astrid-Ann Valentyn van die plaaslike maatskaplike dienste- tak sê hierdie “mandjie van dienste” is beskikbaar aan almal wat dit nodig het. “Uiteindelik wil ons die gemeenskap help om hulself te bemagtig tot op die punt waar hulle nie só afhanklik van hierdie dienste is nie.

“Deur die hulpbronne aan die gemeenskap te bied, hoop ons hulle word selfstandig en help uiteindelik om ’n netwerk te skep,” sê Valentyn.

Sy meen ook Vrydag was nuttig vir organisasies om hulself bekend te stel en om met ander in die maatskaplike sektor in verbinding te tree.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article